BEKENDE sitrusboer en oudrugbyadministrateur van Patensie, SP (Espie) Ferreira, is onlangs vier dae ná sy vrou, Hilda, oorlede – albei aan COVID-19.

Die egpaar (albei 88 jaar oud) het die familie-onderneming Endulini Fruit saam tot stand gebring. Hulle was 62 jaar getroud en het mekaar op Stellenbosch ontmoet waar hy by die Elsenburg-landboukollege en sy by die Universiteit Stellenbosch studeer het.

SP is Vrydagoggend 25 Junie in die St. George-hospitaal in Gqeberha oorlede nadat Hilda die vorige Maandag in die Humansdorp-hospitaal dood is.

Hilda en SP Ferreira. Foto: Veronica Coetzer

Die oud-WP-skrumskakel Freddie (Boetieban) Ferreira het aan Rapport gesê sy pa was hul ses kinders “se held gewees en iemand waarna almal opgesien het”. “Hy was die grootbaas.”

Freddie bestuur die uitvoer van sitrusvrugte van die familie se plase in Patensie en die Sondagsriviervallei, terwyl sy broer Pietie die boerdery behartig. Hul derde broer, Eppie, is agt jaar gelede aan kanker oorlede.

Daar is ook die susters Alma, Marietjie en Lindie.

“Ja, ons pa was tot met sy siekte betrokke by die boerdery. ’n Boer tree mos nooit af nie,” sê Freddie.

Hy vertel sy ma het ’n absolute liefde vir tuinmaak gehad en oral in die dorp (Patensie) bome en blomme aangeplant. SP het sy liefde vir rugby op administrateursvlak uitgeleef. Hy was lank ’n OP-rugbykeurder en ook net meer as 50 jaar president van die Patensie-rugbyklub.

In sy tyd as rugbybaas het hy die twee rugbyklubs op Patensie wat op grond van ras en kleur geskei was, versoen tot een klub – dít nadat dr. Danie Craven hom op ’n kol gevra het om die klubs op sy dorp “bymekaar” te bring.

Hy het Patensie se klubspan oorsee geneem om in Engeland te speel en gereël dat ’n Patensie-uitnodigingspan teen ’n SA Barbarianspan op die dorpie gespeel het – met sowat agt Springbokke in elke span.

Hy het drie van die spelers van die span van Uruguay wat die vliegongeluk in die Andes in 1972 oorleef het, Suid-Afrika toe gebring en hulle Patensie toe gevat.

Die oud-Bokslot Schalk Burger sr., wat vir die OP gespeel het toe Ferreira ’n OP-keurder was, onthou: “SP het geen OP-wedstryd misgeloop nie.

“SP was die katalisator wat OP-rugby so ’n hartlikheid gegee het. Dis was net lekker om vir die OP te speel omdat SP-hulle vir ’n gees van samehorigheid gesorg het.”

’n Oudredakteur van Rapport, Bokkie Gerber, sê Ferreira het homself tydens die Britse Leeus se 1980-toer tot die Springbokke se “geheime wapen” verklaar deur in die Bloemfonteinse hotel waar die Leeus tuisgegaan het die spelers se nagrus te versteur – tot moontlike voordeel van die Bokke.

“Hy is in die gang af na die kamers van die Leeus waar hy aan die spelers se kamerdeure geklop en dan gang af gehol het. Fran Cotton, die een stut, het deurgeloop en SP gang af gejaag.

“SP het gewen en die veiligheid van die kamer darem gehaal.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article