Hoe ouer mens word, hoe nodiger word dit om vriende te hê.
En om vriende te hê wat al van lankal af kom, selfs van kindsbeen af, is goud werd.
Vir my is dit wonderlik om ’n verskeidenheid maters te hê wat mens op verskillende maniere aanvul. Nie almal in my kleurvolle vriendekring hou van die teater en feeste nie, en net so is daar ander wat jy nie dood op die dansbaan sal sien nie.
Dis so kosbaar om vriendinne te hê wat jou ouers geken het, wat nog die name van die liewe huishulp en jou troeteldiere onthou. En die wat by was met elke groot familiefees of –geveg, jou grootword-huis geken het en die skooldae meegemaak het.
Dit is egter so dat die voetpadjie na ’n vriend se huis gou toegroei as mens dit nie gereeld stap nie. Dis eintlik ’n groot eer as iemand jou in hulle lewe toelaat.
Om die titel as vriend te hê, beteken eintlik dat daar ’n bietjie moeite ingesit moet word om die vriendskap lewendig, prettig en betekenisvol te hou.
Nie almal in my vriendekring deel dieselfde humorsin nie. Maar elkeen vul my aan op ’n eiesoortige manier. Elkeen is nodig om my volledig mens te maak.
Met my boeremusiek-dansmaters deel ons dié pret.
Die groep maats by die lyndans wakker weer ander eienskappe aan, en so sal my joernalis/woord-maats daardie sy van my bevredig. Mens kan nie sommer met enigeen gaan inkopies doen nie, of op die strand lê nie of gaan toer nie.
Daar is mense in jou lewe met wie jy oor religieuse sake kan praat. Die groep feesflerries wat saam kunstefeeste bywoon ken jou weer op ’n ander manier.
Dan is daar ook die maat wat ek wéét altyd sal help met ’n resep of huishoudelike raad.
En dan is daar die staatmaker wat ek enige tyd bel om gate te boor en te help met ’n pap wiel – daardie ‘ek-is-altyd-daar-vir-jou’ mens.
’n Mens is bevoorreg om maters te hê wat jou gereeld saamnooi, jou talente en suksesse erken, bystaan deur moeilike tye en jou gevoelens ag.
Een mens kan nie álles vir ’n ander wees nie. Ons het ’n verskeidenheid mense nodig.
En dan is dit uitsonderlik as jy daardie één maat het met wie jy alles in jou hart kan deel sonder om jou woorde te tel of veroordeel te word nie.
Maats uit verskillende fases van jou lewe is so waardevol – skoolmaats, studentemaats, vriendinne wat saam swanger was en babas gehad het, dié wat jy deur jou kinders se aktiwiteite leer ken. En dan ook dié saam met wie jy werk.
Met tegnologie soos WhatsApp en Facebook is dit so maklik om kontak te hou, en om op hoogte bly van mekaar se lewens.
Met een plasing kan die hele lotjie weet wat gebeur. Dis ’n manier om te keer dat daardie “vriendskapsvoetpadjie” toegroei.
Dis so maklik om te deel in ’n vriend(in) se wel en weë, en dalk ’n lig in ’n donker dag te bring.





