DIE immergewilde Melkfees word vanjaar weer by die Ferry Hotel aangebied op Saterdag en Sondag 1 en 2 Maart.
Vanjaar se program spog met kunstenaars soos Tino, Barto, Jakkie Louw, Chris Steyn en Jo Black. Daar sal oor die 150 stalletjies wees wat ’n verskeidenheid items te koop sal aanbied asook kosstalletjies wat die monde sal laat water. Feesgangers kan uitsien na ’n vertoning deur ’n K9-honde-eenheid wat hul interessante aanvalswerk sal demonstreer.
Daar sal geleentheid wees om ’n selfmaak kaas en jogurt demonstrasie by te woon terwyl die kinders kan ontspan in die “Fun Zone”.
Die vermaak by die “Fun Zone” is ingeslut by die kinders se kaartjies. Vir die grootmense is daar ook proe-sessies vir craft bier, wyn en jenewer (gin). Vir diegene met ’n groot eetlus – en ’n soettand! – is daar die opwindende Melktert-eet kompetisie wat om 12nm op 1 Maart sal plaasvind. Inskrywings hiervoor word op die dag gedoen.
Nóg ’n hoogtepunt is die Mnr. en Mej. Melkfees kompetisie.
Op Saterdag sal die stalletjies van 8vm tot 6nm oop wees en die kosstalletjies tot 9nm. Op Sondag sal die stalletjies tussen 8vm en 4nm oop wees en die kosstalletjies tot 5nm.
Kaartjies vir die Melkfees beloop R120 per dag vir volwassenes en R180 vir die naweekpas. Vir kinders (5-17 jaar) is dit R90 per dag en R130 vir die naweekpas. Kaartjies is beskikbaar by Quicket of by die ingang.
Besoek www.quicket.co.za vir kaartjies.
Vir meer inligting, gaan na MPO Melkfees op Facebook of skakel vir Anri op 064 934 3951.





