HONDERDE slaggate regoor die Kouga-gebied is die afgelope maand reggemaak na swaar reëns groot skade aan teer- en gruispaaie verrig het.
“Daar is nog baie herstelwerk wat gedoen moet word en ons kyk na verskeie maniere om die werk vinniger gedoen te kry,” het Kouga-burgemeester Horatio Hendricks gesê.
“Die munisipaliteit het voldoende teer. Die uitdaging is mannekrag.
“Ons is dus tans besig met die aanstelling van ‘n kontrakteur om met van die werk te help en het ook by die Gemeenskapswerksprogram (“CWP”) aangeklop vir ekstra werkers.”
Volgens die burgemeester, is die toestand van gruispaaie ook ‘n groot bekommernis.
“Ons huidige begroting beperk tot watter mate ons aan die gruispaaie kan werk. Die klem val dus op die regmaak van hoofpaaie.
“Ons verwag egter om in Februarie meer geld vir gruispaaie beskikbaar te kan stel en sal dan verdere verbeterings aan dié paaie kan aanbring.”


