Daar was onlangs groot feestelikheid op Kareedouw om ’n oud-skoolhoof se honderdste verjaarsdag te vier. Hy is op 18 Junie 1924 gebore.
Nico Vermaak het ’n groot deel van sy lewe op Jansenville deurgebring waar hy gematrikuleer het. Na sy onderwysstudies op Graaff Reinet, het hy op Redelinghuys skoolgehou waar hy sy vrou, Dorris, ontmoet het. Die ywerige onderwysman het sy studies voortgesit aan die Universiteit Stellenbosch. Van 1956 tot sy aftrede was hy verbonde aan die Hoërskool Paul Sauer op Kareedouw, waar hy later skoolhoof was.
Hy geniet goeie gesondheid, stap flink met sy kierie, en hou hom besig met blokraaie en Sudoku. Vermaak woon sedert sy vrou se heengaan sowat vyf jaar gelede by sy seun James op Skuitbaai.
Hy het twee seuns, agt kleinkinders en ses agterkleinkinders.
James sê sy pa het ’n groot rol in die gemeenskap gespeel om die hospitaal daar te vestig, en was baie betrokke by die skool en kerk. “Toe daar op ’n dag nie ’n dominee was by die oggenddiens nie, het my pa sommer opgestaan en uit sy kop gepreek,” vertel sy oudste seun James.
Die verjaarsdagviering is bygewoon deur oud-leerlinge en –kollegas, familie en vriende.



