“My kind, as jy met nat hare gaan slaap, gaan jy stinkneus kry, ” het my pa altyd gewaarsku. Of hy sou sê: “as jy lê en eet, gaan jy horings kry!”

My ma het weer gewaarsku: “As jy op ’n Sondag naaldwerk doen, steek jy die naald in die Here se oog!”

So gesels ons anderdag oor die dinge wat ons ouers ons wysgemaak het net om goeie gewoontes en maniere in te skerp. So vertel vriendin Nana dat haar ouers weer beweer het dat hulle bene sal afval as hulle op ’n Sondag sou dans. Verbeel jou!

Sy vertel ook van hulle lewe op ’n kleinhoewe buite Alberton. “Jong, ek het die taal van daai sifdeur goed geken. As dit stadig en wyd oopgemaak word, en stadig toegaan, dan weet ek dis my pa. Sy lang voetstappe op die plankvloer het dan gevolg. Dan weet jy hoe om te sit en staan. Maar as die sifdeur vinnig oopgemaak word en toeklap, dán moet jy spark, want dis Ma. Aan haar kort treetjies het jy geweet om omtrent op aandag te staan,” vertel sy al laggend.

Mettertyd het die sifdeur ’n paar gate ingekry en die lastige vlieë het dan so hulle pad gekry tot by die etenstafel. “Dit was dan my werk om die vlieë weg te waai. Jitte, dit was nou vir jou ’n jop, hoor! My skouer pyn nou nog van al die gewaai!”

Maar die beste storie oor haar Nana se kinderdae wat sy vertel het, het my laat skater. Sy was die vierde kind van ses. Elkeen het hulle laatmiddag werkies gehad om die diere op die werf te versorg. Háár plig was om daagliks die eiers te gaan uithaal.

Op ’n dag het sy doodluiters weer sleepvoet geloop om te gaan eiers uithaal. Sy kon haar oë nie glo toe daar geen eiers in die hoenderhokke was nie, maar lemoene! Sy vertel grootoog hoe sy huistoe gehardloop het en die familie geroep het om te kom kyk! Hulle hoenders het dan nou lemoene gelê in plaas van eiers!

Natuurlik het die boeties en sussies haar uitgelag, totdat hulle by die hoenderhokke gekom het en dit sélf gesien het. Hulle was almal opgewonde oor die lemoene, want vrugte was nie ’n alledaagse nie. Die volgende dag by die skool het sy al haar maats vertel van die wonderwerk. Natuurlik het hulle dit met ’n knippie sout gevat, maar tog na skool opgeruk om die petalje te aanskou.

“Jitte man, ek kon dit nie glo nie! Daar was wraggies nie meer een lemoen in die hokke nie – net eiers! Dit kon nie wees nie! Dis eers toe ek my boeties sien staan en skaterlag dat ek besef het hulle het my ’n streep getrek!”

Nou wonder ek: met die kommer oor die verwagte lae pryse wat boere vir hulle sitrus gaan kry, of hulle nie eerder met hoenders en ander pluimvee moet begin boer nie. Dalk is daar ’n gans onder hulle wat goue eiers kan lê…

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article