Die Pell-familie was pioniers in die vroeë ontwikkelingsjare van Jeffreysbaai. Hulle was ware baanbrekers rondom 1865, wat ’n groot rol gespeel het in die totstandkoming van die gesogte kusdorp.
’n Bekende baken op die dorp is die Pellhuis in St Francisstraat. Minder bekend egter is die Pell-familiebegraafplaas in Pellsrus. Dit is dus vanpas om die familie se laaste rusplek te bewaar.
Waar die familie destyds begrawe is, het dit mettertyd erg verwaarloos: die grafte is toegegroei, grafstene is beskadig en omgestoot en die omheining was in ’n treurige toestand. Die munisipaliteit het die gebied omhein met palisade. Daarna het opknapping van die Pell-begraafplaas begin deur middel van samewerking tussen die Kouga Munisipaliteit en die Humansdorp Museumvereniging.
Die tesourier van die Humansdorpse Museumvereniging, Petro Meyer sê dit was ’n reuse taak: “Van die grafte het aan die een kant gesak. ’n Nuwe blad is gegooi en die muurtjies opgebou en daarna is granietteëls bo-op vas sement om dit mooi af te rond.”
Waar moontlik is die ou grafstene behou en die woorde net weer oorgeverf. Daar was twee gebreekte grafstene wat vervang is met nuwes. Daar was tekens van nog ’n graf, maar met geen steen op nie. “Ons het uiteindelik sewe grafte gerestoureer, waarvan een graf drie name op het.”
’n Nuwe grafsteen bevat die name van die ma (1905), pa (1879) en hul kind (1868) wat jonk dood is – daar was slegs ingeduikte grond en gruisklippe wat aangedui het dat daar wel ’n graf was.
“Dit is moontlik dat die pa, ma en kind elkeen apart begrawe is, maar geen duidelike tekens van nog grafte kon gekry word nie. Wanneer in ag geneem word dat die spesifieke grafte ouer as 100 jaar is, is dit verstaanbaar,” sê Meyer.
Dit het heelwat navorsing geverg om die inligting op die grafstene te bekom. Geen ou foto’s kon opgespoor word wat meer lig kon werp op die ligging van genoemde grafte nie.
“’n Lys is beskikbaar van almal wat daar begrawe is en die gegewens is gebruik om die grafte te identifiseer,” verduidelik Meyer.
George Pell
George Pell was ’n hotelbaas, winkelier en ambagsman. Hy het in 1865 getender vir ’n kontrak om die regeringsgeboue op Humansdorp te herstel en te vergroot. George se seun, William, het sy pa fluks gehelp.
Hy het hom beywer vir die groei van Jeffreysbaai en het diens van onskatbare waarde aan die inwoners van Jeffreysbaai en omgewing gelewer. Dit het die uitbouing van infrastruktuur ingesluit.
George Pell se winkel was meer as net ’n handelaar en kantien. Daar was alles van oesters en vars vis tot kerse en konfyt te koop. Twee dosyn oesters is verkoop vir twee sjielings, terwyl ’n honderd sigare vyftien sjielings gekos het. Pell het selfs ganse aan ’n boer ge- stuur en vis voorsien aan die Thornhill Hotel. Hy was ook verantwoordelik vir die insameling van huishuur wat destyds twee sjielings en ses pennies beloop het. Die vissermanne het maar swaar gekry, en het dan sommer ’n paar visse aangebied in ruil vir die huurgeld.



