NÁ ’n oggend in Roslin Kramer (34) se geselskap, wéét jy dat een mens ’n groot verskil kan maak, maar bowenal dat geloof ’n mens deur selfs die grootste krisis dra.
Dit is duidelik dat liefdadigheid dié skoolberader by die Pellsrus Primêre Skool in Jeffreysbaai se groot passie is – al is dit na-ure en vat sy soms skaars grond.
Kramer, wie ’n passie en deernis vir talle het, glimlag: “Ek wil nie beroemd wees nie. Ek wil hoop bring. ’n Verskil maak – al is dit hoe gering.”
Dit is wat sy daagliks vir honderde min-der- bevoorregte leerders vanaf graad R tot graad 7 doen – 300 om presies te wees.: hetsy met ’n toebroodjie, skoolskoene, ’n nuwe waslap, potlode of ’n woord van bemoedig-ing.
“Liefdadigheid is waar my hart lê. Dit is my groot liefde,” sê die ma van een seun.
Waar kom haar welsynhart vandaan, en hoe het dit gebeur dat sy die werk doen?
Kramer, wat in Pellsrus grootgeword en skoolgegaan het, sê: “Omgee is in my gene. Dit kom vir my natuurlik, vir so lank as wat ek kan onthou.
Sy sê: “Ek het in baie moeilike omstan-dighede grootgeword – dit het raap en skraap gegaan. Daar was nooit geld vir luukshede of selfs ons eie huis nie. Ons het in ’n kamer by ’n familielid gebly.
“Maar daar was altyd liefde en omgee.”
Sy ken ook van hartseer na haar ma se afsterwe vier jaar terug.
Dankbaar vir al haar seëninge, sê Kramer: “As ek terugkyk, weet ek die Here het my ge-dra tot waar ek vandag is.
“En nou kan ek my lief en leed, ervarings, hartseer en sterkpunte gebruik om leerders deur moeilike tye te help.”
Pellsrus Primêre Skool
Sy het nooit beplan om knie-diep by liefdadig-heid betrokke te raak nie, maar dit was die logiese volgende stap na sy drie jaar terug as berader by Pellsrus Primêre Skool aange-sluit het.
“Die behoefte hier is groot,” sê sy. “Baie groot, en dit word net groter. Van die 1 370 leerders by die skool, is 300 van die armstes van die armes in die gemeenskap.”
Volgens Kramer is staatshulp minimaal en maak die skool op donasies en fondsinsame-lings staat.
Projekte om die leerders te help, sluit in kospakkies – naas die voedingskema by die skool – toiletware, skoolklere en -skoene en skryfbehoeftes.
Kramer doen ook gereeld huisbesoek in die gemeenskap – altyd met iets om te eet waar nodig.
“Ons waardeer enige donasie – groot of klein,” sê sy.
Volgens haar het hulle ’n groot behoefte aan kos, skoolklere, skoolskoene, skryfbehoeftes en toiletware.
Maar dit gaan oor veel meer as net kos in die maag en klere aan die lyf.
“Ons gee leerders kos, ja, maar ons gee ook aandag aan al die basiese behoeftes: veilig-heid, liefde, aanvaarding en selfrespek.”
Geloof
Haar werk is nie altyd maklik nie, maar dit is waar haar geloof haar dra.
“Dit is onsettend stresvol en ’n gróót verantwoordelikheid,” sê Kramer. “Dit is net genade dat ons elke maand die leerders kan help.
“’n Mens moet ten volle op die Here vertrou.”
Vir haar is die wonderlikste deel van haar werk om te sien hoe menselewens verander en die stralende glimlag op ’n kind se gesig is haar motivering wanneer alles te donker begin raak.
Dit is wat haar aan die gang hou. En om seker te maak dat sy elke maand ’n behoeftige leerder se lewe makliker maak – al is dit net met ’n kospakkie of stywe drukkie.
“Dit is ’n ongelooflike eer dat die Here my gekies het vir hierdie taak.”
Vir meer inligting of donasies, skakel Kramer by 042 293 1484 of 076 070 4811.





