Daar is net sowat 1 600 witkruisvleivalke (in Engels bekend as Black Harriers) oor in die wêreld. Tot die vreugde van natuurliefhebbers in die Kougastreek, kom dié valk nog naby Jeffreysbaai voor…
Nie so haastig nie, hou ’n bietjie stil, gaan stap ’n entjie in die fynbosveld waar die bedreigde Witkruisvleivalk nog voorkom!
Dít is wat ’n mens vir die haastige motoris op die R102 tussen die Gamtoosriviermond en die Kabeljous- riviermond wil sê, want waar in die wêreld kan jy ’n baie skaars roofvoël nog vry sien vlieg naby ’n digbewoonde gebied soos Jeffreysbaai?
En jy kan stilhou, want hier vind jy ook die Kabeljous natuurreservaat met voetpaadjies vir die besoeker – selfs op die stuk staatsgrond langs die reservaat. Onthou om ’n verkyker, kamera en waterbottel saam te neem.
Iemand wat dit graag doen, is Maggie Langlands, inwoner van St. Francisbaai en passievolle voëlkyker.
“Daar is net sowat 1 600 Witkruisvleivalke oor in die wêreld – en dié wêreld is Suider-Afrika. Hy kom net in Suid-Afrika, Namibië en Lesotho voor.
“Daar word selfs vermoed dat daar minder as ’n duisend individuele Witkruisvleivalke oor is, want dié valke is nomadies, hulle vlieg na verskillende streke . . . en ons is besig om agter te kom ons tel dalk dieselfde voëls twee keer.”
Dr. Wentzel Coetzer, biodiversiteits-fasiliteerder van die Greater Kromme Stewardship, wys daarop dat die Witkruisvleivalk internasionaal gelys is as ’n bedreigde spesie en is ook een van die skaarsste roofvoëlspesies in Suider-Afrika.
Top-roofvoël
“Hy is ook ’n top-roofvoël in die ekosisteem, so hy vervul ’n baie belang-rike rol in die natuurlike sisteem van hierdie gebied.”
Die gebied waarna Wentzel verwys, is die spesifieke soort renosterveld tussen die Kabeljous- en Gamtoos- riviermonding.
“Daar is verskillende soorte renosterveld, en die spesifieke een binne die groep is die Humansdorp skalie-renosterveld – ’n soort fynbosveld naby die kusgebiede wat die Witkruisvlei-valk se belangrike habitat is.
“Die Humansdorp skalierenosterveld is endemies aan ’n baie klein ge-deelte van die Oos-Kaap. Dit is nasionaal ook gelys as ’n bedreigde plantegroei-tipe. Die gebied langs die Kabeljous natuurreservaat is staatsgrond, en ons werk daaraan om dit geproklameer te kry as as natuurreservaat omdat dit so ’n belangrike habitat is vir die Witkruisvleivalk.”
Maar gaan dit so maklik gaan om die staatsgrond as natuurreservaat geproklameer te kry?
“Dit is inderdaad ’n lang en uitdagende proses. Die prioriteitsareas is reeds geïdentifiseer en ons werk aktief daaraan om hierdie gebiede óf geproklameer te kry óf ’n beter grondbestuur van die eienaars in die spesi- fieke gebiede te kry sodat die habitat waar die Witkruisvleivalk voorkom, steeds geskik sal bly vir hulle,” antwoord Coetzer.
Die Witkruisvleivalk maak gewoonlik jag op ’n verskeidenheid van knaagdiertjies wat in die veld voorkom en is weens sy jagmetodes habitat-spesifiek.
“Dit moet ’n spesifieke fynbosstruktuur wees, want die verrassingselement speel ’n groot rol in die Witkruisvleivalk se jagmetode. Hy vlieg baie laag oor die fynbos en as hy sy prooi sien, duik hy af om dit te vang.”
Die spesifiek fynbosstruktuur (in dié geval die Humansdorp skaliere-nosterveld) is ook belangrik vir dié valk se oorlewing.
“Die Witkruisvleivalk maak nes op die grond en dit maak hom weerloos, so hy het ’n sekere mate van plantegroeibedekking nodig om sy nes goed te kan wegsteek,” verduidelik Coetzer.
Laaste natuurlike tuiste
Hy kyk uit oor die fynbosveld tussen die Gamtoos- en Kabeljousriviermondings, sê dan: “Hierdie is een van die min veilige gebiede waar die Witkruisvleivalk kan leef soos hulle ge-skape is om te leef.”
Volgens Coetzer is dit ook van die laaste Humansdorp skalierenosterveld wat daar oor is in die wêreld. “Daar is nog klein gedeeltes, wat geïsoleerde kolletjies is, oor op plase en ’n paar bietjie groter stukke van dié fynbosveld.”
Langlands beaam dit. “Ons doen ’n dringende beroep op private grondeienaars in hierdie streek om asseblief dit wat oor is van die Humansdorp skalierenosterveld, te help bewaar. Dit is ’n skrikwekkende gedagte dat die Witkruisvleivalk binne 75 jaar kan uitsterf.”
Die grootste kommunale slaapplek van die Witkruisvleivalk kom juis op private grond in die Kouga-streek voor, sê Coetzer.
“Dit is wat ons noem die Witkruisvleivalk (Black harrier) se roost area. Hulle kom laatmiddag daar by-mekaar en dit is uiters belangrik dat daardie gebied op ’n spesifieke manier bestuur word. Dit beteken nie dié gebied kan glad nie benut word vir landboudoeleindes nie.
Dit beteken slegs dit moet op ’n skere manier bestuur word sodat die landbou-aktiwiteite versoen kan word met die oorlewingsbehoeftes van die Witkruisvleivalk.”
Die Greater Kromme Stewardship se program is juis daarop gerig om private grondeienaars by te staan en aan te moedig om die biodiversiteit op hul grond in stand te hou en te help bewaar.
Inkomstepotensiaal
Coetzer sê daar is selfs sommige grondeienaars wat hul grond formeel as natuurreservaat-gebied laat of wil laat proklameer. “Die Greater Krommer Stewardship kan dié grondeienaars help om natuurreservaat-status vir hul grond te bekom en die nodige bestuursplanne vir hul grond te ont-wikkel.
“Ander boere kom klop weer by ons aan om hulp en advies sodat hulle die biodiversiteit op hul grond beter kan bestuur, sodat die landbou-aktiwiteite waarvoor hulle hul grond gebruik, versoenbaar kan wees met bewa-ring.”
Vanuit ’n toerisme-oogpunt is daar volgens Langlands ook die potensiaal vir grondeienaars om ’n inkomste te genereer omdat die Witkruisvleivalk so skaars is.
“Daar is ongelooflik baie voëlkykers, nasionaal en internasionaal, wat geïnteresseerd is om die Witkruisvleivalk te kom sien. So daar is daardie potensiaal ook wat ek dink dikwels uit ’n suiwer landbou oogpunt misgekyk word.”
- Vir enige navrae oor biodiversi-teitsbewaring op private grond, kontak dr. Wentzel Coetzer by wentzel@conservation-outcomes.org, of stuur ’n WhatsApp na 072 534 5914.





