DIE feesseisoen bring daarmee saam ’n paar dinge: son, see, heerlike familietyd en natuurlik: Eet!
Hier volg ’n paar gunsteling resepte wat getoets en gewaarborg is vir enige familiesaamtrek, verjaarsdag, kerstafel of sommer net ’n lekker kuier gedurende die maand wat voorlê.
Beter as gekoopte roomys! (en so maklik)
Bestanddele:
500ml vars room (boksies of blikkies sal nie hiervoor werk nie)
1 blik kondensmelk
5 ml vanieljegeursel
Enige van die volgende, afhangende van die geur wat jy wil maak. Jy kan natuurlik ook krea-tief wees en jou eie geurkombina-sies probeer!
½ koppie bloubessies (gepulp en ’n paar heel vir tekstuur)
½ koppie aarbeie – dieselfde as bo
¼ koppie espresso-koffiepoeier
1 pakkie Oreo-koekies
100ml STERK rooibostee (afgekoel)
sjokoladestukkies, malvalekkers en jellielekkers (as jy vir die kinders ’n lekker roomys wil maak)
Metode:
Klop die room tot sagte punte vorm. Vou die kondensmelk en vanieljegeursel in.
Vou liggies die geurmiddel van jou keuse in die roomysbasis in.
Bedek en vries – dis so maklik!
Beïndruk jou gaste met biltongslaai
Bestanddele:
Blaarslaai – gebreek
Komkommer in skyfies gesny
Wortels in julien repies gesny
Avokadopeer in skywe gesny
Fetakaas gekrummel
Wildsbiltong in dun skyfies gesny
Gekapte neute
Een gekookte eier, in skywe gesny
Metode:
Plaas blaarslaai in bord
Sit nou die komkommer, wortels avokadopeer in lae bo-op blaarslaai. Krummel feta kaas en strooi bo-oor
Plaas nou die biltong bo-oor en strooi neute oor
Rangskik die wiggies gekookte eier bo-op.
. Hierdie slaai kan met enige slaaisous van jou keuse bedien word
Heerlike wortelkoek
Bestanddele vir koek
500ml bruismeel
2 groot piesangs
10ml bakpoeier
200ml sagte bruinsuiker
knippie sout
250ml grof gerasperde wortels
125ml pekanneute
2 groot eiers
150ml sonneblomolie
5ml kaneel
1ml neutmuskaat
Metode
Sif bruismeel, bakpoeier en sout saam. Kap neute, skil en verpulp piesangs.
Roer pekanneute, piesangmoes, bruinsuiker en gerasperde geelwortel by meelmengsel. Maak ’n holte in die middel en giet eiers en sonneblomolie daarin. Klop alles saam tot gemeng. Skep beslag in pan. Bak 45 minute tot ’n uur tot gaar by 180ºC.
Versiersel
Klits 250ml botter baie goed. Vou in met ’n lepel 1 en ’n 3/4 bakkies (230 – 250g elk) Simonsberg roomkaas, meng goed deur, maar moe-nie klits nie. Sif by 375ml versiersuiker en 2ml vanielje-essens en meng goed saam.
Voeg 20ml vars lemoensap bie- tjie vir bietjie by soos jy dit meng. Versier wortelkoek en sprinkel met okkerneute en gekarameli-seerde lemoenskywe.



