VIR Kouga Express-vryskutskrywer, Anthony Augustus, het die lewe in ’n nagmerrie ontaard na-dat sy vermiste seun se wreed aangerande liggaam ná twee maande in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgespoor is – en dit blyk dat hy vermoor is.
Wat dinge selfs moeiliker vir die bedroefde familie maak, is dat dit hulle ongeveer R10 000 uit die sak gaan jaag om hul seun, Anrico Kettledas (24), se liggaam na Humansdorp terug te bring waar hy in sy tuisdorp begrawe moet word.
’n Stukkende Augustus sit op moedverloor se vlakte omdat hulle eenvoudig net nie die geld het nie.
“Ek wil net noem dat my seun seker nou nie ’n engeltjie was nie, maar tog was hy my seun en al wat ek as pa begeer, is om tog net vir hom ’n ordentlike begrafnis te gee,” vertel ’n hartseer Augustus.
“Ek is stukkend en so vol stres dat woorde nie eens genoeg is om my werklike gevoelens te beskryf nie.”
Hy verduidelik dat Kettledas die afgelope twee jaar by sy ouer suster, Antolene, in George gewoon het. Antolene het haar pa twee maande gelede gekontak en ingelig dat Kettledas verdwyn het.
“Ek het my dogter aangeraai om hom as vermis by die polisie in George aan te gee. Eers het ons verneem dat hy in ’n motoronge-luk betrokke was, of so het die stories geloop, maar twee weke gelede het die polisie ons ingelig dat ’n ongeïdentifiseerde liggaam uitgeken is as my seun s’n in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Wat ’n skok! Sy ma sukkel nog geweldig om tot verhaal te kom en ek ook,” sê hy.
Volgens Augustus is daar aanduidings dat sy seun na bewering aangerand is, maar verder weet hy niks nie.
“In hierdie stadium is die polisie besig met ’n moordondersoek. Dit wil voorkom asof hy vir drie dae nog geleef het in die hospitaal, maar nou ja,” sê hy moedeloos.
“Tans sukkel ek om my kind se liggaam vanaf Kaapstad huis toe te bring omdat ek nie die nodige geld het vir die begrafnisondernemer se vervoer van sy liggaam nie.”
Augustus het verder vertel hoe hy – wat gereeld oor ander vermiste persone of slagoffers van geweld verslag gedoen het – ge-ruk is toe dit met sy eie kind ge-beur het.
“Aan ander ouers wat dieselfde smart deurmaak, wil ek sê, ek verstaan jul pyn. Kyk, die lewe gaan oor keuses en besluite. Elke kind, wanneer hulle volwassenes is, het mos die reg om te besluit met wie hy of sy wil assosieer, en- sovoorts.
“Wel, my kind was dalk op die verkeerde plek of tyd of dalk met die verkeerde mense betrokke, maar dis nog steeds my kind en ek wil net die beste vir hom kan gee.”
- Augustus kan gekontak word op 083 433 0768.

