Beatie van Daalen sit hier tussen van die dosyne hase wat sy al met sorg gemaak het. Sommiges kort nog afronding. Elke haas is uniek met ‘n uitrusting, blommekransie, juweliersware en ‘n geborduurde truitjie.

Foto: Veronica Fourie

Daar is ’n groot klomp dierbare hase wat in Jeffreysbaai mense aan die ore ..lei. Hulle lyk almal verskillend met ’n eie identiteit en selfs ’n geboortesertifikaat. Die enigste ooreenkoms wat verklap dat hulle van dieselfde familie is, is hulle lang ore.

Beatie van Daalen is ’n vrou met besondere ondernemingsgees, en ’n spesiale liefde vir hase. Jarelank al. In haar huis is rakke vol ornamentele hase – van haasvormige kerse tot keramiek hase.

Kort nadat sy en haar man, Hannes, hulle op Jeffreysbaai gevestig het sowat drie jaar gelede, het ’n buurvrou vir haar ’n opgestopte materiaal-haas as geskenk gegee. “Die outjie met sy tosselstertjie was te kaal na my sin, en ek het gaandeweg vir haar kleertjies gemaak,” vertel Beatie opgewonde. Dit was die begin van die haas-aanwas in hulle huis.

Kreatiwiteit kry vlerke

“Ek het toe ’n patroon ontwerp, en nog ’n haas gemaak. Dit het nie net gebly by die kleertjies nie! My kreatiwiteit het vlerke gekry. Daar het juweliersware bygekom, ’n blommekransie op die kop, en veral die gebreide truitjie met borduurwerk,“ babbel die plaasvrou, voorheen van Jansenville.

Sy het sommer van die haas-kinders saamgeneem na die gesogte restaurant op Humansdorp waar sy gereeld werk. “Die mense het sommer baie daarvan gehou. Nadat ek tien hase gemaak het, wou ek ophou, maar die bestellings het begin instroom.”

Bedryfspan moet inspring

Beatie sê sy het destyds baie by haar ma geleer van naaldwerk, en sy het self ’n Huishoudkunde kwalifikasie agter haar naam. Met die ‘haasboerdery’ het sy al haar vaardighede ingespan. Die familie en selfs vriende moes inspring om ’n produksielyn aan die gang te kry. Sy maak self die lyfies, Hannes help om die drade in ore te sit, ’n vriendin op Adelaide help truitjies brei en haar huishulp help om die lyfies om te dop. Die kleertjies en blommetjies doen sy self.

Elkeen is uniek

“Ek raak vreeslik lief vir elke haas wat ek maak, en is dan baie hartseer om hulle te laat gaan. Maar die wete dat hulle baie vreugde verskaf, maak my gelukkig. Ek praat ook van hulle op hulle name.”

Sy gee vir elke haas ’n naam wat op die geboortesertifikaat geskryf word. Soms vra ’n kliënt vir ’n naam en ’n spesifieke kleur.

Hulle dogter Helen is onlangs getroud. “Ek het vir die blommemeisie ’n haas gemaak van dieselfde materiaal as haar rokkie, om dankie te sê. Sy was so gaande daaroor dat sy uiteindelik met die haas in die arm die paadjie afgestap het.”

hase dosyne
Dié haas is ’n spesiale Kersfees haas.

Ondersteun plaaslik

Beatie skaf so te sê al haar benodigdhede plaaslik aan. Die kleertjies word meestal van katoen gemaak, en daar is al uitrustings gemaak met egte sy onderaan die rokkies. Die bloomers is te skattig afgerond met tierlantyntjies. “Ek is baie lief vir materiaal, en glo aan goeie kwaliteit.”

Hase is al die wêreld vol

“Ek het al hase versend oral oor die land, en daar is ook hase na Australië en Engeland. Daar is nou al by die vyftig hase wat liefdevolle huise gekry het. My haaskinders is gewild by kinders en grootmense,” sê die voormalige onderwyseres.

Haar suster, Susan Becker,het haar aangemoedig om Bea’s Bunny’s te stig, en sy behartig ook die bestellings. Bel haar vir navrae by 082 780 0192.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article