Merle Lloyd het ná 40 jaar uit die onderwys uitgetree.

Foto: Verskaf

Sy het deur die jare diep spore in die onderwys getrap, veral by die Hankey Primêre Skool. Nou, ná vier dekades, het sy besluit om uit te tree en aan ’n nuwe generasie oor te gee. Merle Lloyd vertel meer oor haar onderwys-avontuur deur die jare.

Ek het my onderwysloopbaan in 1983 by die Chigwell SSKV op ’n klein dorpie in die Gamtoosvallei begin.

Dit was ’n leersame ondervinding om met minderbevoorregte leerders te kon werk. Hulle dissipline was inderdaad iets goed om te onthou. Destyds het ek met ’n graad 2-klas begin.

As gevolg van ’n vervoerprobleem, het ek ’n oorplasing na die Hankey Primêre Skool gekry waar ek tot aftrede gebly het.

Leergierig

Daar het ek begin om my studies voort te sit. Ek was baie leergierig en het deur afstand-onderrig my derde en vierde jaar, sowel as die verdere onderwys diploma deur Wes-Kaap Onderwys Kollege verwerf. Ek het ook by NMMU klasse bygewoon en my B.Ed graad in grondslagfase onderwys verwerf.

Later het ek die voorreg gehad om as departementshoof vir grondslagfase aangestel te word.

Onthou, ons moenie dat die praktiese manier van onderrig verlore gaan nie. Ons kry leerders wat deur middel van verskeie metodes leer.

Die ATKV het vir ons ’n opvoering van Dinosourusse wat nie kan lees nie gehou sodat leerders die visualisering vir hulle leesprobleme kon ondervind.

Hoogtepunte

Een van die hoogtepunte in my loopbaan was wanneer leerders wat akademies gesukkel het, vordering begin toon het. Geduld het vanselfsprekend ’n groot rol gespeel.

Ek het dit geniet om huisbesoek te doen, want op hierdie wyse kon ek ’n prentjie van die leerders se sosio-ekonomiese toestande tuis sien.

By Hankey Primëre Skool het ek verder ontwikkel deur opleiding te kry vir die nuwe kurrikulum en het as fasiliteerder vir vyf skole opgetree.

Ek was by die atletiek, netbal en kultuur betrokke, en dit was inderdaad aangenaam om verskillende kore oor die jare af te rig.

Die kultuurkomitee was baie aktief en leerders het aan musiekkompetisies deelgeneem en elke keer toekennings vir uitstekende sang ontvang. Daar was gereeld konserte en talent-aande gehou.

Maar nou het ek aan die einde van ’n lange uitdagende reis gekom waar ek dit geniet het om die leerders op te voed.

Die spanwerk met my mede-kollegas is iets wat my altyd sal bybly. Ons het daarin geglo dat leerders holisties moet ontwikkel.

Raad aan jonger geslag

My leuse was altyd: Staan vir waarin jy glo, al staan jy alleen!

Aan my jonger kollegas wil ek sê: Daar sal altyd uitdagings wees, maar byt vas en dink aan die verskil wat jy in ’n leerder se lewe kan maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article