St Francisbaai kan binnekort die luuksheid hê van ’n veelsydige en bekende oud-sportman wat verskeie sporte vir oud en jonk kan aanbied.
JJ Fivaz, ’n Vrystater wat hom die afgelope ruk in dié pragtige Oos-Kaapse dorp gevestig het, sê hy het groot planne en is reeds op soek na ’n geskikte perseel. Hy was in 1993 lid van ’n sterk Springbok-stoeispan wat na Duitsland getoer het, en het kort daarna ’n rofstoeier geword.
Daarnewens was hy ook ’n bekende in kragoptelkringe en het ook verskeie kere aan sterkmankompetisies deelgeneem. En asof dit nie genoeg is nie, was hy ook ’n liggamsbouer en gimnas. Hy het ook die Vrystaat as atleet verteenwoordig.
Die verskeidenheid sporte waarin hy afrigting kan doen is dus legio. Sy ervaring kan vorentoe goud werd wees vir dié Oos-Kaapse dorp. Fivaz sê hy het ook in 1998 ’n gimnasium in Aliwal-Noord begin waartydens hy ’n afrigtingskursus afgelê het. Die gymnasium bestaan steeds.
Dan het Fivaz ook reeds ’n gesprek gehad met die gewigoptel-afrigter Pieter Pretorius van Jeffreysbaai om dié sport ook te betrek. Fivaz sê die potensiaal in St. Francisbaai om veral die jeug van dwelms en die strate te bevry kan deur middel van sy beplande projek gedoen word.
“Deur vir alle ouderdomsgroepe sporte van hul keuse aan te bied kan ons ’n groot bydrae lewer om die jeug fiks en gesond te hou. “Ek sal ook mense selfverdediging wil leer. Dis alles deel van ons plan vir die toekoms,” sê hy.
Fivaz sê hy was net 18 jaar oud toe hy by die bekende rofstoeipromotor Willie Grové se stal in die Vrystaat aangesluit het. “Daar het ek onder drie verskillende name gestoei. “Ek het onder my eie naam in die kryt geklim, maar het ook as die gemaskerde Stormer en Puma deelgeneem,” sê hy.



