“BEURTKRAG, oorstromings en ’n yskoue winter” sewe jaar gelede het moontlik bygedra tot die grootste gr. 1-klas tot nog toe by ’n laerskool op ’n Oos-Kaapse plattelandse dorp.
Die Laerskool Gamtoosvallei naby Patensie, ’n klein skool met slegs een klas per graad, het vanjaar ’n gr. 1-klas van 30 leerlinge, waarvan byna die helfte van die leerlinge kinders van ’n groep vriendinne is.
Sowat sewe jaar gelede het die groep swanger vroue sommer informeel bymekaar gekom en saam ’n foto geneem. Vanjaar, met die aanvang van hul kinders se skoolloopbaan, het hulle weer ’n groepfoto geneem.
Anneli Young, een van die ma’s, sê die ma’s bespiegel nogal oor wat tot die skielike groei in hul klein plattelandse bevolking gelei het. Hulle kon aan minstens drie moontlike redes dink.
Hulle sê 2014 was een van die koudste winters in die gebied en fase 3-beurtkrag het aan die einde van daardie jaar begin.
“Ons kry ons water uit die Kougadam en is op die oomblik – hopelik aan die einde – van die Gamtoosvallei se ergste droogte nóg.
“In 2015, die geboortejaar van ons kinders, het die dam oorgeloop en van die ouers was in 2014 gestrand op die plase omdat ons laagwaterbruggies oorstroom het. So, ons spot dat voorbehoeding dalk ietwat van ’n probleem kon gewees het,” skerts Young.
Christelle McCabe, skoolhoof, sê die skool kla glad nie oor sy groot gr. 1-klas nie. Sy meen dis vir kinders ’n voorreg om op die platteland groot te word.





