Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images/iStock

Die room van agt lande se judo deelnemers sal vanaf 2 tot 6 Augustus in die Veremarksentrum in Gqeberha in aksie wees. Hulle sal in verskillende kategoriëe meeding om as kampioene uit te tree.

“Die lande wat teen Suid-Afrikaners kom deelneem is Indië, Ierland, Wallis, Engeland, Botswana, Mosambiek en Namibië. Ons sou graag meer deelnemers wou hê, maar baie is reeds besig om voor te berei vir die komende Olimpiese Spele,” sê Paul Nothnagel, SA Judo se sportdirekteur.

Dié kontaksport het heelwat gegroei. Deelnemers sal te staan kom teen mededingers in spesifieke ouderdoms- en massagroepe.

Die publiek is welkom om die kampioenskappe gratis by te woon. “Ons is hoopvol dat daar sommer ’n paar Suid-Afrikaanse kampioene sal wees,” sê Nothnagel.

Op 3 Augustus sal die veterane (ouer as 30) in aksie wees, op 4 Augustus is die pre-kadette (13-14 jaar) op die mat. Die kadette (o.18) sal op 5 Augustus kragte meet, en die juniors (o.21) en seniors (ouer as 21) sal sake uitbaklei op 6 Augustus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article