INGE Airoldi se duisend megawatt-glimlag, was nog altyd aansteeklik, maar nou is daar ’n ékstra glinster in haar oë.

Inge Airoldi is opgewonde oor haar nuwe avontuur – universiteit.Foto’s: Verskaf

Sy het op 17 Februarie uiteindelik die woorde gehoor waarop sy al meer as ’n jaar wag: “Jy is kankervry”.

Inge het in die middel van haar matriek-eind-eksamen op 27 Oktober 2019 ernstige probleme met haar gesondheid ondervind.

Sy het gedurende haar wiskunde-vraestel op 27 Oktober uiteindelik besef dat daar gróót fout is toe sy dubbelvisie, visuele distorsies en onuithoudbare hoofpyne ervaar het.

Ten spyte daarvan het sy haar vraestel voltooi, maar op pad huis toe in die motor vir haar ma gesê dat sy twee sypaadjies sien. Hulle het toe dadelik ’n afspraak gemaak om haar oë te laat toets.

Toe Inge die oggend van 28 Oktober 2019 haar huis verlaat om haar oogkundige te gaan sien, het sy nie verwag dat sy eers 30 dae later – ná ’n diagnose van breinkanker asook ’n lewesge-vaarlike breinoperasie – weer haar voete in haar eie huis sou sit nie.

Die volgende 24 uur was ’n warrelwind van dringende spesialis-afsprake, breinskanderings en uiteindelik, opname in St. George’s-hospitaal in Gqeberha (Port Elizabeth). Op 30 Oktober hoor sy woorde waarop geen mens ooit kan voorbereid wees nie.

’n Neuroloog wys vir haar ’n breinskande-ring-foto met ’n merkbare abnormaliteit en dra die nuus oor dat sy breinkanker het.

Op die ouderdom van 18 jaar het haar lewe in duie gestort.

Die nuus van Inge se diagnose het haar skool, Global Leadership Academy, dieselfde oggend nog bereik terwyl haar klasmaats, onbewus van haar toestand, besig was met hulle Afrikaanse vraestelle.

Dit was vir almal ’n ongelooflike skok dat die stralende Inge, wat twee dae tevore nog op die skoolbanke was, skielik moes veg vir haar lewe.

Een van die hindernisse in Bettina Airoldi, Inge se ma, se pad was dat Inge nie aan ’n mediese fonds behoort het nie. Die nag in St. George’s-hospitaal, asook die MRI-skande-rings het hulle reeds duisende rande uit die sak gejaag, en hulle het besef dat dit maar die begin van ’n baie lang pad was.

Gebedsgroepe is onmiddellik gestig en vriende het ’n hulpfonds – die Yellow Llama-fonds begin waar donasies begin instroom het.

Die volgende probleem was om iemand te kry wat bereid was om te probeer om Inge se lewe te red. Die tipe gewas wat sy gehad het, was baie skaars en op ’n baie moeilike plek, naby haar breinstam, geleë. Dit sou dus ’n baie gespesialiseerde taak wees om haar behandeling aan te vat, en daar was nie iemand in Gqeberha wat in daardie stadium kans gesien het om die gewas te probeer verwyder nie.

Gedurende die volgende maand van Inge se siekte het wonderwerk op wonderwerk ge-beur. Eerstens, dat haar skanderings by twee van die tóp neurochirurge in die land beland het.

Hulle het dieselfde dag nog vir Bettina gekontak en gesê dat hulle hul beste sal probeer om vir Inge te help.

Die tweede genade was dat hierdie chirurge by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad was – ’n staatshospitaal. Alhoewel daar steeds baie kostes betrokke was vir die gesin, sou die ope-rasie en hospitaalkostes darem grootendeels deur die staat gedek word.

Bettina en Inge was stomgeslaan.

Inge vertel, “Die eerste paar dae was eintlik ’n blur. Nie net omdat ek baie siek was nie, maar dinge het so vinnig gebeur. Alles het net in plek geval. Die Here is ongelooflik goed.”

Inge is per ambulans oorgeplaas na Groote Schuur-hospitaal en is opgeneem in die hoësorg-eenheid waar sy vir die volgende sewe dae moes wag dat die chirurge die beplanning doen vir haar groot operasie. Dit sou ’n baie delikate en ingewikkelde operasie wees wat ’n hele span mediese personeel sewe ure neem om soveel van die gewas te verwyder, sonder om haar met permanente breinskade te laat.

Hulle kon wonder bo wonder 95%-persent van die gewas verwyder, en die res sou later met radioterapie behandel word.

Van links is vriende Kirsty McGillivray, Zoë Smith, Isabella Isaacson en Jeandri van Straaten by Inge Airoldi toe sy in die hospitaal was.

Op 21 Februarie 2020 het Inge die laaste van 33 sessies bestraling gekry om die res van die gewas te probeer dood. Sy keer terug na Jeffreysbaai en probeer haar lewe so normaal moontlik lei, tot hulle weer moes Kaap toe om te hoor of die behandeling suksesvol was.

Met die COVID-19-pandemie wat daarna uitgebreek het, was alle hospitaalbeddens en mediese personeel egter ingespan om die krisis in die Kaap te probeer bekamp en Inge kon vir ’n jaar nie terugkeer vir haar opvolgbesoek met die neuroloog nie.

Sy het intussen hard geleer en einde 2020 haar matriekeindeksamen oorgeskryf.

“Ek het dit van die begin af vir die Here gegee en het geglo ek is volkome genees, maar daar is altyd tye wanneer jy wonder.”

Toe sy op 17 Februarie vanjaar uit Groote Schuur-hospitaal stap met ’n skoon MRI agter die rug, was Inge oorstelp van vreugde. Dieselfde dag het sy gehoor dat sy aanvaar is om by NMU BSC. Biokinetika te studeer.

Toe sy op 23 Februarie uiteindelik haar ma- triek-simbolestaat by die skool kon afhaal is die sirkel voltooi en weet sy dat sy nou kan aangaan met haar lewe. “Hierdie ding het my geleer hoe goed die Here is en dat ’n mens altyd op Hom kan vertrou. Dit het my ook die goedheid van die mensdom laat raaksien. Wêreldwyd het mense vir my gebid en bygedra tot my fondsinsamelings. Ek kan nie genoeg dankie sê vir elke gebed, elke boodskap en elke glimlag wat ek op hierdie pad gekry het nie. Dis net wow!”

Inge begin op 15 Maart met haar studies aan NMUb–bom haar droom te bewaarheid om haar passie vir biologie uit te leef in ’n veld waar sy ook mense kan help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article