Nadia Vos saam met die graad 9-leerders wat die projek koördineer. Foto: JOANÉ AZENHA

Graad 9-leerders van Global Leaderhsip Academy het onlangs besluit om hul gemeenskap te dien deur ’n baie spesiale projek aan te pak.

Volgens Nadia Vos, graad 9-graadvoog en voorsitter van die span wat hierdie projek dryf, is daar hordes meisies (ongeveer nege miljoen) wat elke maand nie toegang het tot sanitêre produkte nie.

Dit beteken dikwels dat hulle nie skool kan bywoon of aan aktiwiteite kan deelneem nie, of ander mediese probleme ontwikkel, omdat hulle nie die geleentheid het om behoorlike persoonlike higiëne toe te pas nie.

Vos het vertel, “Ons leerders is meestal in die bevoorregte posisie dat ons altyd toegang het tot dit wat hulle nodig het, hetsy dit by die huis of by die skool is. Ons wil graag uitreik na ons gemeenskap en dit vir ander meisies moontlik maak om hulle dagtake te verrig sonder om bekommerd te wees dat hulle nie toegang het tot basiese sanitêre produkte nie.

“Ons het bokse in al die badkamers geplaas om hierdie produkte in te samel. Hierdie projek is ook nie net vir meisies nie, ons het ook drie seuns op die span wat die projek dryf.

“Dit is belangrik dat hulle ook op hierdie manier leer om meisies te respekteer end dat hulle behoeftes verskil van dié van seuns.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article