J’baai: Gholfbaan maak dalk plek vir multi-miljardrand-ontwikkeling

Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Die moontlikheid bestaan dat ’n multi-miljard Rand ontwikkeling op die gholfbaan in Jeffreysbaai binne ’n paar jaar die gesig van die dorp kan verander.

Die Kouga-munisipaliteit het in die media begin adverteer om die gemeenskap en moontlike ontwikkelaars bewus te maak daarvan dat daar ’n proses begin word om na die moontlike ontwikkeling te kyk. Die tydperk vir reaksie en kommentaar is van dertig dae tot sestig dae verleng.

Geen laekoste behuisig nie

Daar is groot kommer by inwoners dat die gesogte gholfbaan met ’n see-uitsig, sal plek maak vir laekoste behuising. Die Kouga se munisipale bestuurder, Charl du Plessis, het alle vrese besweer.

“Indien die sowat drie-miljard-rand ontwikkeling sou voortgaan, sal dit soos ’n klein ‘village’ wees, wat oop sal wees vir almal, nie net diegene wat daar sal bly nie. Daar word in dié stadium beoog om behuising en algemene dorpsontwikkeling soos winkels daar te hê, asook sportgeriewe en kantore. Dit sal die waarde van eiendomme in die omgewing verhoog,” verduidelik Du Plessis.

Kommersiële besluit

Tans betaal die gholfklub ’n geringe bedrag van ’n paar duisend rand per maand huur aan die munisipaliteit. “Indien dit ’n ontwikkeling word, kan dit ’n inkomste van sowat 30-40 miljoen Rand aan slegs eiendomsbelasting aan die munisipaliteit verskaf.

Moontlikhede

Du Plessis verduidelik dat daar ’n paar moontlikhede is wat kan gebeur. Die uitkoms van die gemeenskapsproses kan meebring dat die gholfbaan en alles daar bly soos dit is, met geen ontwikkeling wat sal plaasvind nie.

Daar is ’n alternatief dat die munisipaliteit ’n ander gholfbaan ontwikkel.

“Daar word gekyk na plekke soos Paradysstrand, naby die watersuiweringswerke of selfs op privaatgrond.

“Dit sal ’n nuwe klubhuis, die baan en besproeiing insluit.

“Die klub sal vergoed word vir verbeterings wat reeds aangebring is. Die voordeel is dat die gholfbaan dan nie meer grond hoef te huur nie, maar eienaarskap kan neem,” sê du Plessis.

Ontwikkelaar

Die munisipale bestuurder sê daar is al die afgelope tien jaar gereeld navrae van ontwikkelaars om die waardevolle grond te ontwikkel wat sowat R55 miljoen Rand werd is.

Die ontwikkelaar sal verantwoordelik wees vir die dienste, en voorsiening van water en riooldienste. Indien die tennisbane of enige van die ander sportklubs se geriewe moet verander, sal dit vir die koste van die ontwikkelaar wees. Daar sal ook nuwe toegangspaaie moet wees.

Daar is tans ’n plan vir ontwikkeling ingedien, maar geen besluit sal geneem kan word voor openbare deelname nie.

Bate vir die dorp

“Dit sal beslis ’n bate vir die dorp wees. Die huidige gholfbaan het nege gaatjies, en vergelyk nie juis goed met ander bane in die omgewing nie, soos die by St Francisbaai, Humansdorp en selfs Hankey. Dit is wel goedkoop om hier te speel. Hierdie is ’n geleentheid vir ’n beter baan. Dit sal nou nie ’n ontwerpersbaan wees nie, maar dit sal ongeveer R30 miljoen beloop om ’n nuwe baan te vestig,” sê Du Plessis.

Sou die ontwikkeling voortgaan, sal dit eers oor sowat tien jaar voltooid wees. Die huidige baan sal vir minstens nog drie jaar soos nou kan voortgaan, aldus Du Plessis.

Ander sportgeriewe bly

Die ander sportgeriewe soos die rolbal-, tennis- en muurbalklubs sal nie in die gedrang wees nie. Indien dit sou nodig wees om bv. die tennisbane te skuif, sal die ontwikkelaar nuwes in die omgewing moet voorsien.

Nog geen besluit nie

Du Plessis beklemtoon dat daar nog geen besluit geneem is nie.

“Ons het pas begin om te adverteer vir openbare deelname. Daar sal ook openbare vergaderings gehou word, en ons moedig mense aan om dit by te woon om die ware feite te kry, en nie op bewerings op sosiale media te reageer nie.”

Daar is ook nog glad nie op ’n ontwikkelaar besluit nie, en die ontwikkeling sal op tender uitgaan. Stadsbeplanning sal ook ’n groot rol speel.

Hy moedig die publiek aan om kommentaar, klagtes en insette skriftelik in te dien by die munisipale bestuurder by Da Gamaweg 33, Jeffreysbaai. Dit kan ook op die munisipaliteit se webblad gedoen word deur die meningsopnameskakel. Die sluitingsdatum is 26 Maart 2023.

“Ons sal graag wil sien dat dit ’n wen-wen situasie vir die hele dorp sal wees. Daar is reeds ‘n taakspan aangestel om die beoogde ontwikkeling te fasiliteer.”

  • Die voorsitter van die gholfklub, Frik Coetzer, het bevestig dat daar reeds vergaderings en samesprekings plaasgevind het met die munisipaliteit en ander belangepartye. Hulle onderneem om binnekort ’n verklaring uit te reik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article