Foto ter illustrasie


Aandag aan alle raakrugby-ondersteuners – die USN JBay Beach Touchies-toernooi is terug in Jeffreysbaai.

Dit gebeur onder leiding van Christo “1Touch” Botha, organiseerder en aanbieder van die toernooi.

Botha, wat touchies vir die afgelope 30 jaar speel, is ’n Jeffreysbaai-touchies legende wat vanaf 2001 tot 2009 aan die Rapport JBay Touchies deelgeneem het vir die onoorwonne Bulldogs touch-rugbyspan.

“USN se doel met die toernooi is om vir almal ’n geleentheid te gee om aan ’n top touchies-toernooi deel te neem,” het hy vertel.

Luidens Botha sal die toernooi twee afdelings hê, naamlik die Christian Ellis Pro-Liga en die Sosiale Liga.

Die pro-liga se 16 spanne gaan rondomtalie speel, terwyl die 32 spanne in die sosiale liga uitklop-formaat gaan speel.

“Die pro-liga is vernoem na ons geliefde skeidsregter, Christian Ellis, wat in 2020 oorlede is aan COVID-19, so ons bring hulde aan hom. Die skeidsregter van die toernooi gaan ook die Christian Ellis-trofee ontvang,” het Botha gesê.

Dit is die derde USN JBay Touchies wat gehou word.

Verlede jaar se toernooi is afgestel weens COVID-19.

Botha het vertel dat hulle in 2019 reeds die tweede week van Desember inskrywings moes sluit toe die toernooi vol bespreek was.

Die toernooi sal op 26 Desember op Jeffreysbaai se hoofstrand vanaf 09:00 plaasvind. Daar is vele pryse op die spel.

“Toeskouers gaan wel toegelaat word afhangende van die COVID-vlak. Toeskouers gaan wel nie in die spelers-gebied toegelaat word nie en is slegs vir die spelers.”

Spanne wat deelneem sal vroeg moet opdaag sodat die nodige COVID-19-regulasies toegepas word. Die koste om in te skryf is R100 per span van agt spelers. Inskrywings sluit sodra die 48 plekke vol is.

“Die hoofborg is USN en spesiale dank aan Rayno Gerber wat dit moontlik maak,” het Botha gesê.

Die prysuitdeling sal by Je’Vista Social Cafe in Jeffreysbaai plaasvind, asook die amptelike touchies after party wat elke jaar kook.

Vir meer inligting of om in te skryf kontak Christo Botha by 072 238 4463 of 1Touch@igen.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article