Een van die lekkerste kinderdae herinneringe is wanneer jou ouers jou styf toegewikkel het in die bed en so bietjie gelê het om jou vas te hou.
Om groot te word het verskeie uitdagings, en soms het mens steeds daardie drukkie nodig met slaaptyd. Dis veral kinders met outisme, aandagafleibaarheid, en psigiatriese probleme soos depressie, gemoedsteurnis, angs, sensoriese prosesseringsdisfunksie en post-traumatiese stres wat dit nodig het. Selfs ook mense met dimensie en Alzheimers.
Een van die metodes wat help om hierdie toestande te verlig, is ’n spesiale swaar kombers (weighted blanket). Forensiese maatskaplike werker van Jeffreysbaai, Daleen van Biljon, sê sy het al groot sukses gesien by kinders wat, benewens die ander toestande, ook aan slaaploosheid ly. “Die komberse het ’n spesiale nie-allergiese vulsel wat sagte en egalige druk op die liggaam uitoefen, wat help om stil te lê en die persoon te ondersteun. Dit is glad nie warm nie. Die druk bevorder die vrystelling van seroto- nien en melatonien wat ons laat goed voel,” sê Van Biljon.
Voordele
Nog redes om die kombers te gebruik is dat dit die gevoel van om toegewikkel te wees naboots, en ’n gevoel van warmte en veiligheid gee wat die liggaam laat ontspan. Hulle slaap dan dieper en word verfris wakker.
Van Biljon verduidelik: “Dit help baie om spanning te verlaag en gou ontspanne te voel. Weens die vrystelling van serotonien en die chemikalie melatonien wat bevorder word deur die drukking, raak mens gouer aan die slaap, slaap dieper en beweeg baie minder gedurende die nag.”
Sy sê dit het eintlik ’n kettingreaksie in die liggaam wat ’n algehele gevoel van kalmte meebring. Mense wat sukkel met rustelose bene, pyn en om te fokus baat beslis hierby. Sensoriese integrasie terapeute vind dat dit help om kinders se emosies en gedrag te reguleer.
Heston Ferreira (14) van Patensie is ingenome met sy kombers. “Dit voel regtig of ek heeltyd ’n drukkie kry, en ek slaap lekker vas en rol nie meer rond nie.”
Nommer pas
Van Biljon het ook gevind dat kleiner weergawes wat op die skoot pas, met groot sukses in die klas gebruik word vir kinders met angs, aggressie en obsessiewe kompulsiewe gedrag. Hulle sit dan langer stil en kan hulle werk voltooi. Sy maak ook klein sakkies wat van een hand na die ander gegooi word.
Selfs kleiner stroke wat om die nek en skouer pas, is van groot hulp om spanning te verlig. Kantoorwerkers wat heeldag voor ’n rekenaar sit, kan, byvoorbeeld, dit gebruik.
Van Biljon maak self die komberse, volgens elkeen se massa en liggaamsbou.
“Dit is belangrik dat dit pasgemaak word. Dit is beslis nie net een grootte wat vir almal pas nie. Die gewig van die komberse kan wissel van een kilogram vir ’n baba, tot agt kilogram vir ’n volwassene. Dit vervang ook beslis nie me-dikasie nie, maar is addisioneel. Ek sien dit as ’n manier om emosionele welstand te bevorder by kinders en volwassenes.”
Daleen van Biljon het privaat praktyke in Jeffreysbaai en Gqeberha. Sy kan gekontak word by 082 923 9092.




