Pellsrus-3 haal SA-gewigoptelspan na Samoa
Theolien Ruiters, Lumar Karolse en Junique Windvogel. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – DAAR is trane en verslaendheid op Jeffreysbaai nadat ‘n gebrek aan borgskappe drie jong gewigoptellers se drome verpletter het.

Lumar Karolse, Theolien Ruiters en Junique Windvogel moes aan die Suid-Afrikaanse jeug en junior-span onttrek word wat van 27 April tot 2 Mei aan die Statebondspele in Samoa deelneem omdat ‘n poging om fondse in te samel niks opgelewer het nie.

“Dis hartverskeurend om die teleurstelling op my lifters se gesigte te sien. Ek kan dink hoe gebroke hulle moet voel. Ons het gebid, gesmeek en alles probeer vir borgskappe uit die Kouga-streek om die drie talentvolle lifters internasionaal te laat deelneem.

“Niks het egter vir ons uitgewerk nie. In my lang loopbaan as afrigter was dit die donkerste uur in my lewe om hulle mee te deel dat hulle nie kan saam reis Samoa toe nie,” sê die afrigter, Pieter Pretorius.

pieter pretorius
Afrigter, Pieter Pretorius. Foto: Verskaf

Hy sê die gebrek aan geleenthede om internasionaal te kan deelneem kan vir hulle demotiverend wees en hulle laat twyfel aan hul vermoëns.

“Vir my as afrigter om hulle gemotiveerd te hou is moeilik, maar ek herinner hulle aan hul vordering, fokus op hul sterkpunte en stel bereikbare doelwitte.

“Ons vier klein oorwinnings en beklemtoon die belangrikheid van persoonlike groei,” sê hy.

Hy sê sy lifters druk dikwels hul frustrasie uit, voel vasgekeer en wonder of hul harde werk die moeite werd is. “Sommige is naby aan tou opgee, maar ons probeer fokus op die groter prentjie en die liefde vir die sport,” sê hy.

Die Suid-Afrikaanse Gewigoptelfederasie het nou voorgestel dat die Kouga-deelnemers nou eerder fokus op Afrika-kampioenskappe van 5 tot 13 Oktober in Algerië omdat dit Pretorius-hulle meer tyd sal gee om fondse in te samel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article