Adré Kleynhans in haar laboratorium besig om grondmonsters se biologie te ontleed.

Foto: Veronica Fourie

Al meer boere begin gebruik maak van die beginsel van gesonde grondbiologie om goeie kwaliteit oeste te verseker.

Adré Kleynhans, ’n mikrobioloog van Kareedouw, sê gesonde grond benodig genoeg goeie mikro-organismes om kwaliteit landbouprodukte te lewer.

By haar onderneming, Tzitzikama Effektiewe Mikro-organismes (TEM), is sy gedurig besig om grondmonsters te ontleed en produkte te ontwikkel.

Onsigbare wonderwerkers betower haar

“My twee kinders moes maar van kleins af saamry wanneer ek melkmonsters by boere trek of in die veld was,” vertel die vrou wat betower word deur die klein wonderwerkers wat ’n mens nie met die blote oog kan sien nie.

“Ek het in die veeartsenykunde mikrobiologie begin doen, en daarna hoofsaaklik mastitis-beheer gedoen. Dit was meestal op patogene organisms,” verduidelik Adré.

In 2002 het die goeie mikro-organismes in die grond haar gebyt. Sy sê mense verwys maklik na kieme of goggas, maar die meeste mikro-organismes is voordelig. Goeie gesonde grond bevat miljoene voordelige mikro-organismes.

In haar laboratorium, Scarab Lab, vermeerder sy die organismes wat in die veld ge-oes word.

’n Ekstrak word daarvan gemaak saam met medisinale plante.

Die vloeistof bevat dan van die medisinale eienskappe van die plante, natuurlike voedingstowwe asook voordelige mikro-organismes.

Die ekstrakte word in reuse-tenks by haar fabriek vervaardig. Dit word dan aangewend vir grondvoeding of ekstrak prosesse.

Chemiese stowwe vernietig fyngevoelige organismes

Chemiese stowwe is baie hard op grondbiologie en kan selfs fyngevoelige organismes soos byvoorbeeld liewenheersbesies en miskruiers se voorkoms verlaag of vernietig. “Die teenwoordigheid van sekere organismes soos dié outjies kan ’n aanduiding gee van die grondgesondheid. My ideaal is om omstandighede te skep wat volhoubaar is in alle opsigte met volop miskruiers in weidings,” verduidelik sy passievol.

Chemiese stowwe is baie nadelig vir grondmikrobes, bars hul eensellige wand, beïnvloed die kwaliteit van weiding, groente en vrugte en is baie duur.

“Grond kan vergelyk word met ’n gesonde maag,” verduidelik Adré.

“’n Gesonde maag gee mens ’n gesonde liggaam en gees. As jou maag omgekrap is, is alles verkeerd. Gesonde grond gee gesonde plante. Grond dien dus as immuniteit van die plant.”

Dis ’n tydsame proses om die balans in die grond te herstel. Grondmonsters word geneem waar die boer graag ’n meer natuurlike en volhoubare boerdery beplan.

Sy verduidelik, “Ons kyk na die wortelontwikkeling, grondstruktuur en tekstuur en doen ’n mikrobiese telling van die mikrobes met behulp van ’n mikroskoop.

“’n Produk word dan saamgestel volgens die behoefte van die spesifieke stuk grond. Kliënte mengsels word dus deurentyd verander.”

By die fabriek op Kareedouw, word ook ander produkte vervaardig met betrekking tot omgewingsprobleme soos misdamme op suiwelplase, kelders, rioolstelsels asook aanvullings vir plante en verskeie ander diere.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article