Creighton Pietersen nael vasberade doellyn toe. Foto: Verskaf


’n NUWE lewe het onverwags vir ’n 14-jarige skoolseun van Humansdorp oopgegaan.

Die kranige rugbyspeler van die Laerskool Graslaagte, Creighton Pietersen, se vertonings was só indrukwekkend dat hy deur die gesogte Hoër Seunskool Westville in Durban opgeraap is.

Pietersen is in die sewende hemel dat Westville hom gekoop het. Westville is vanjaar as die land se voorste seunskool in sport aangewys.

Pietersen is ewe tuis op slot en flank en sy vordering in Durban sal fyn in die Oos-Kaap dopgehou word.

Westville het hom ’n volle beurs aangebied sodat hy sy talente op die sportveld ten volle kan ontwikkel.

Pietersen is egter ook ’n akademiese presteerder en is vir sy harde werk van gr. 1 tot 5 daarvoor beloon.

Hy is in 2022 vir die Oostelike Provinsie se o.12 Jumbo-span gekies wat op Riversdal aan ’n interprovinsiale toernooi deelgeneem het.

Pietersen is ook dieselfde jaar as Graslaagte se Sportman van die Jaar aangewys.

In 2023 het hy die OP se o.13 B-span in Pietermaritzburg verteenwoordig en is in dié jaar ook as Graslaagte se hoofseun aangewys.

By Westville het hy sommer met die intrapslag sy merk gemaak toe hy vir Westville se o.14-rugbyspan gekies is. En net om sy veelsydigheid te onderstreep is hy ook as die skool se o.14-kaptein in basketbal aangewys.

Tydens die Gelofte Skool se o.15-sewestoernooi vanjaar is Pietersen twee keer as speler van die wedstryd aangewys. Hy was ook die speler van die toernooi.

Sy ouers, Virgille and Bianca Pietersen, is uiteraard trots op wat hul seun op die sportveld bereik, maar ook dankbaar vir die geleentheid wat Westville hom bied.

Op Humansdorp – en by Westville – word geglo dat daar in die toekoms nog baie van Creighton Pietersen gehoor gaan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article