Die ekonomie is taai en het al veroorsaak dat talle gevestigde ondernemings hulle deure moes sluit. Nog een wat moontlik dié stap sal moet neem is die bekendeTolbos restaurant en padstal by Patensie in die Gamtoosvallei.
Dit gons op sosiale media vandat die eienaars bekend gemaak het dat die Tolbos dalk in die wind gaan rol.
Die gewilde bymekaarkomplek, waar mense soms hulle pakkies laat aflewer, spesiale geleenthede vier, inligting oor die Gamtoosvallei kry en etes kan geniet met produkte uit die vallei, is besig om al stiller te raak.
In ’n openhartige inskrywing op die oudste padstal in Patensie se Facebook blad, het Carin Scheepers en haar ma Hetsie Scheepers bekend gemaak dat die onderneming finansieël in die knyp is en dalk binnekort moet sluit.
Vir meer as 33 jaar is Tolbos die hartklop van Patensie – nie net as ’n onderneming nie, maar as ’n staatmaker inligtingsburo vir toeriste en gaste. Hulle kan kundige inligting verskaf veral oor die skilderagtige Baviaanskloof wat ’n wêreld erfenisgebied is.
“Die sluiting van Tolbos sal nie net lei tot werkverliese van die vriendelike personeel nie – dit sal ook ’n impak hê op die klein besighede in die Baviaanskloof wat afhanklik is van verwysings na hulle, vir hulle bestaan.
“Ons vra nie donasies nie, maar almal se ondersteuning in hierdie moeilike tyd. Kom drink ’n lekker koppie koffie, koop van die plaaslike produkte, geniet ’n smullekker ete en vertel ander van Tolbos. Die ondersteuning sal ’n reuse verskil maak sodat ons kan voortgaan om die gemeenskap en besoekers met liefde te bedien,” pleit hulle.
“Ons is dankbaar vir elke gereelde ondersteuner wat ons in staat gestel het om kop bo water te hou in die uitdagende tye. Hierdie is nie ’n maklike pleidooi nie- ons is by breekpunt. Ons vertrou op die sterk gemeenskap en hoop van harte dat ons dié storm sal oorleef,” skryf Hetsie en Carin.
Deur storms, droogtes, vloede en hittegolwe is Tolbos daar met hulp, raad en lafenis. Met ’n hupstoot sal hulle dit weer kan deurstaan.
Vir bestellings of besprekings, bel Carin by 042 283 0437 of 071 124 3427.




