Chrissie Strydom en haar seun, Cisco Strydom. Foto: Verskaf
Chrissie Strydom en haar seun, Cisco. Foto: Verskaf

HUMANSDORP – Een van Humansdorp se geliefde inwoners Chrissie Strydom (84) is vandeesweek op die dorp oorlede.

“Chrissie,” soos sy alom bekendgestaan het, het op ’n plaas in die Klipplaat-distrik grootgeword. Sy het in die sestigerjare by die Touristo Restaurant by die destydse Total-motorhawe begin werk.

Die restaurant het toe aan Mathilda van Rooyen behoort. Chrissie het haarself baie gou as ’n staatmaker in die kombuis onderskei.

Die koshuisleerlinge van die Hoërskool Nico Malan het haar spoedig as ’n geliefde tante leer ken.

Wanneer die seuns vir hul “meneer” moes sigarette kom koop, het sy hulle elke keer goedig gemaan dat rook glad nie goed is vir ’n mens se gesondheid nie. En dat hulle haar boodskap vir die “meneer” moet oordra.

Chrissie het 50 jaar gelede die nuwe eienaar van die Touristo Restaurant geword. Die besigheid is toe na ’n woonhuis oorkant die motorhawe verskuif.

Die heldergeel gebou het toe ’n soort baken langs Voortrekkerstraat geword. Haar getroue kliënte het haar daarheen gevolg en spoedig was Chrissie se snoeperye ’n groot treffer. Sy het ook ’n gaping in die mark geidentifiseer en Sondagmiddag-etes in ’n deel van die restaurant begin bedien. Heerlike boerekos wat met ’n warm hart en ’n gulle ingesteldheid berei is.

Chrissie Strydom
Chrissie Strydom en haar seun, Cisco Strydom. Foto: Verskaf

Sy het later ook begin om klein intieme geleenthede in die restaurant te hou. Van Chrissie se gewildste disse op haar spyskaart was benewens haar voedsame etes, beslis haar kerrievis, sult, ystervarkies, vlaskywe en kerrievetkoeke.

Cornelia Bürki, die bekende Switserse Olimpiese atleet, sê dat Chrissie soos ’n moeder vir haar was.

“Ons het oor die jare heen kontak behou en ek was die dag voor haar oorlye by Chrissie.”

Bürki wat nou ’n bekende atletiekafrigter in Switserland is, is tans met vakansie in Suid-Afrika.

Chrissie het haar winkel in 2020 gesluit en tot twee maande gelede by haar seun Cisco in Gqeberha gewoon.

Sy is daarna in die Ons Tuiste Bejaardesorgsentrum op Humansdorp opgeneem. Sy word deur haar dogter Adelle van Zyl en haar seun Cisco Strydom oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article