DIE rit na Jackye Riddle se plaas net buite Patensie is byna net so besonders as die eksotiese draakvrugte wat daar gekweek word.

Fruit
Draakvrugte se vleis is wit, en skakerings van pienk en pers met klein swart pitjies in. Foto: WILLEMIEN GREEN

So moenie dink dat jy verdwaal het as jy jou meteens aan die rand van die informele nedersetting bevind nie, volg maar net die pad verby die sitrusboorde tot by die hek waar jy op afspraak die Draakvrugte-plaas sal kan besoek.

Ry dan al met die grondpad langs tussen die digte bome deur, oor ’n waterstroompie of twee voordat die Riddle’s se pragtige woonhuis aan jou linkerkant teen die heu-wel verrys.

Dit is nou reeds 13 jaar sedert dié gogga Jackye gebyt het. Sy is nie net die enigste kommersiële verskaffer van dié vrug in die Oos-Kaap nie, maar is ook een van die eerste mense wat dit in Suid-Afrika aangeplant het.

“Hier naby ons het draakvrugte wild op ’n plaas gegroei wat ek vir twee jaar dopgehou het voordat ek besluit het om dit ook self te probeer aanplant,” verduidelik sy.

Die draakvrugte wat deur die Hylocereus-kaktus gedra word, is oorspronklik inheems aan Sentraal-Amerika waar dit in die woude deur die bome rank. In Meksiko staan dit bekend as pitahaya. Dié kaktus is ook meer as ’n 100 jaar gelede deur ’n Fransman aan Viëtnam bekendgestel wat deesdae tonne daarvan na China uitvoer.

“Maar dit word ook in Australië aangeplant en ek verkies dit eintlik om my plante van daar af te bestel omdat dit ook in die Suidelike halfrond geleë is en beter hier aard,” sê Jackye.

“Ek plant vier plante om ’n betonpaal wat dan wanneer dit die bo-punt van die paal bereik uitsprei oor ’n ronde ystersirkel.”

“Toe my eerse plant geblom het was daar ’n groep van 20 mans vir ’n byeenkoms op die plaas en almal het op die bakkies aangejaag gekom om die blom te bewonder, dit is verseker die blom wat nog die meeste gefo-tografeer is,” vertel sy laggend!

“So mooi as wat die blom was, so teleur-gesteld was ek in die eerste vrug. Dié het ons uit onkunde hopeloos te vroeg gepluk en dit was so te sê smakeloos.”

“Dit is juis ook ’n probleem om aan die supermarkte aan wie ons die vrugte onder die naam Dragon’s Den verskaf en wat glo dat die kliënte met hulle oë koop, te verduidelik dat die plant nie noodwendig mooi moet lyk nie, maar as sy blaartjies so effe omkrul en liggies begin verkleur, hy eintlik eers ryp is. Draakvrugte word ook nie soos sommige ander vrugte ryp as hy reeds gepluk is nie.”

Volgens Jackye moet jy voortdurend na-vorsing doen as jy draakvrugte wil kweek omdat daar daagliks nuwe uitdagings en variëteite is om mee tred te hou.

“Dit is nogal ’n komplekse besigheid en talle kopsere en hindernisse wat oorkom moet word wanneer dit by die invoer van die plante uit ander lande kom,” sê sy. “Die steggies is baie duur en kan uit Asië tot R400 per plant kos en uit Amerika soveel as R800 vir een steggie.”

“Ek het op die oomblik 25 variasies van die vrug en glo dat dit die meeste in Suid-Afrika is. Sodra my nuutste besending, die keer uit Maleisië, eindelik afgelewer word, sal ons hopelik ongeveer 150 variëteite hê.”

“Die vleis van die vrugte wissel van wit tot pienk en diep persrooi met klein swart pitjies in. Dit lekkerste vir my is die klein soet-draakvrugte, ’n knobbelrige variasie wat ek dan skil en ’n roomysstokkie insteek en vries, ’n gesonder roomys sal jy nêrens kry nie!”

“Dit neem ongeveer 11 jaar vir die plant wat van ’n saad af gekweek word totdat dit vrugte sal dra.”

“Met die reeds bestaande plante neem dit gelukkig minder tyd en hier by ons kan dit tot drie jaar neem en in die warmer dele soos in Limpopo selfs net twee jaar om vrugte te dra.”

“Die draakvrugte blom net in die nag, gewoonlik van November tot April, vir onge-veer ’n week, die een aand dalk vyf blomme, dan twintig dan weer minder, ons noem dit ’n flush. As dit gedurende die tyd sou reën sal geen bestuiwing plaasvind nie en is jy jou oes kwyt.”

Deesdae maak Jackey en haar span hoofsaaklik op motte staat om die blomme te bevrug.

“Ons het aan die begin dit met die hand gedoen, dan stap jy van plant tot plant om stuifmeel te oes en dan weer met jou houertjie terug om elkeen te bestuif. Ons doen dit steeds met ’n paar van die plante en ek het al besoekers hier gehad wat daarmee kom help het, dit is gewoonlik groot pret, al fladder die goggas oral om jou rond!”

Jackye benader die kwekery met ’n organiese aanslag en gebruik byvoorbeeld eende om die slakke in toom te hou.

“Ons het van die vrugte al uitvoer na die bekende Marks & Spencer-winkels in Brittanje, maar hulle wil een ton op ’n slag hê wat statisties nie noodwendig altyd haalbaar kan wees nie.”

Deesdae tree Jackye ook as konsultant op vir ander boere in Suid-Afrika wat draakvrugte wil aanplant.

Die plant word ook ’n super-vrug genoem vanweë die gesondheidsvoordele te danke aan die vitamienes en antioksidante sowel as probiotiese eienskappe wat dit inhou. Daar word ook beweer dat dit goed is vir diabete omdat dit die bloedsuikervlakke kan stabiliseer.

As daar genoeg draakvrugte is nooi Jackye soms die publiek uit om hulle eie vrugte te pluk. Dit kos dan R40 per kilogram. Besoek The Dragon Fruit Farm op Facebook of kontak Jackye Riddle op WhatsApp by 067 776 8190 vir meer inligting.

  • Kouga Express het die nuwe Suzuki Vitara Brezza toetsbestuur tydens hul besoek aan die plaas. Ons joernalis se bevinding is dat alhoewel die kattebak bietjie klein is, is dit ’n uitstekende motor vir die langpad wat ook goed op grondpaaie vertoon het.

Draakvrug-skemerkelkie:

1 draakvrug (met pienk of pers vleis)

1 sopie Tequila

2 sopies blou Curaçaolikeur

1 koppie pynappelsap

Ys

  • Meng alles goed saam en bedien met vars draakvrugte skyfies.

Draakvrug-gladdejantjie:

1/2 gevriesde pienk of pers draakvrug

1/2 vars pienk of pers draakvrug

1/3 koppie gewone wit joghurt

1/3 piesang

5 aarbeie

  • Meng alles saam tot glad en versier met ’n paar skyfies draakvrugte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article