In wat as ‘n groot terugslag én teleurstelling vir die Oos-Kaapse gewigoptellers beskou word is die groot oefenkamp in die Baai weens finansies van die baan.
Die oefenkamp sou deelnemers van Jeffreysbaai, Humansdorp en die Baai voorberei het vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat van 14 tot 16 Junie in Johannesburg gehou word.
Gewigoptellers is uiteraard teleurgesteld omdat hulle op die oefenkamp baie by die afrigter, Pieter Pretorius, sou kon leer.
Baie van hulle het juis uitgesien na die kamp om die senuwees te kalmeer omdat dit talle se eerste verskyning op nasionale vlak sal wees.
Hy sou ook daar verstellings aan sommiges se tegniek kon maak om hulle slaggereed te kry vir hulle stryd teen die land se bestes.
Vir Pretorius self is die afstel van die oefenkamp ‘n terugslag, maar hy sal nou die beste van ‘n slegte saak moet maak.
Die president van die OP-Gewigoptelvereniging, George Piedt, sê huidige omstandighede is nie ideaal nie.
“Ons fondse is beperk en daarom is die SA kampioenskap nou ons prioriteit.
“Ons sou graag ‘n oefenkamp wou hou sodat ons kon verseker dat ons atlete in top-vorm is met tien weke oor na die nasionale kampioenskap.”
Die afstel van die oefenkamp plaas nou die onus op die gewigoptellers om net harder te werk en seker te maak hulle staan hulle man teen die land se bestes. Pretorius is egter ‘n uitgeslape afrigter wat alles in sy vermoë sal doen om dié struikelblok te oorkom.




