Plaaslike netbalafrigter (40) Rochel Pretorius van die Humansdorp Sekondêre Skool was die SA Skole 0.18-netbalbestuurder tydens die onlangse internasionale 0.18-netbalkampioenskappe in Gold Coast, Australië. Foto:MONIQUE BASSON


NETBALAFRIGTER Rochel Pretorius (40) is ’n kalm breier wat alle besluite versigtig oordink en groot rustigheid na haar span oordra.

Met ’n onblusbare passie vir netbal is dit geen verrassing dat sy ‘nuwe wind’ in die plaaslike en provinsiale netbalspanne se seile blaas nie. Sy is die afgelope tien jaar ’n kranige netbalafrigter by die Humansdorp Sekondêre Skool, asook ’n onderwyser .

Pretorius is nie net afrigter van die Humansdorp Sekondêre Skool-netbalspan nie, maar maak ook die Poison Ivy-klubspan in Humansdorp, Kouga-span en Oos-Kaapspan touwys. Sy is verder die voorsitter vir netbal in die Sarah Baartman-distrik en die sekre-raris vir Oos-Kaap skole-netbal.

“Ek is lief vir netbal. Dit is absoluut my passie en my passie brand warm hier in die Oos-Kaap,” sê Pretorius wat op skool die eerste keer met netbal kennis gemaak het.

“Ek het net dadelik gek geraak daaroor en ’n goot liefde daarvoor ontwikkel.”

Sy was in Humansdorp op skool en het vir die Laerskool Kruisfontein en die Humansdorp Sekondêre Skool gespeel, voor sy onderwys by die Nelson Mandela Universiteit studeer het. Hier het sy vir die span gespeel, en baie goed gevaar.

Sy het haarself so gou moontlik as skeids-regter en afrigter gekwalifiseer.

“En van toe af is dit net netbal, netbal en netbal,” sê Pretorius.

Dié top-afrigter het onlangs die Suid-Afrikaanse Skole 0.18-netbalspan as bestuurder na die internasionale 0.18-netbalkampioenskappe in Gold Coast, Australië vergesel.

Hier het die spelers onder andere teen die toonaangewende spanne van Australië, Nieu- Zeeland, Fiji, Tonga, Samoa, Singapoer en Maleisië te staan gekom. Uit die tien spanne wat meegeding het, het die Suid-Afrikaanse span ’n agtse plek behaal.

Onder haar leiding het daar die afgelope tien jaar, agt Oos-Kaap netbalspelers uit die Humansdorp Sekondêre Skool gekom. Daar word jaarliks 30 Kouga-netbalspelers in die Oos-Kaapspanne opgeneem.

Hoekom doen haar spanne so goed? “Dit gaan alles oor beplanning en baie dissipline,” sê sy.

“En daarvan het ons baie.”

Pretorius se visie vir netbal in Kouga: Om al die skole by netbal betrokke te kry. Asook ’n binnenshuise sportsentrum waar daar te alle tye geoefen kan word – ten spyte van slegte weer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article