Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images/Oli Scarff

Daar is heelwat mense wat ek bewonder vir hulle veerkragtigheid.

Wat uitstyg bo hulle omstandighede. Wat soos ’n kurkprop deur gebeure afgedruk word en weer boontoe skiet.

Hieronder val mense wat weens siekte, finansiële probleme, familiekwessies, geestesgesondstoestande en ander klappe van die lewe, die beste maak van elke situasie.

My vriend Flip is bo aan die lys. Ek het hom leer ken as ’n ywerige danser en boeremusiekliefhebber.

Dié oudmynwerker het al heelwat terugslae te bowe gekom in sy 67 jaar. Maar hy kom telkens weer bo uit en geniet die lewe.

In die myn het hy begin as ’n klokkiejoggie en na 42 jaar diens uitgetree as ’n skagvoorman by ’n platinummyn op Rustenburg. “Dit was wonderlike tye en ek het my gate uit geniet, elke dag gaan werk met ’n lied in my hart!” vertel hy. “Ek het Fanagalo met die werkers gepraat en dit was vir my geen probleem om ondergronds te werk nie.”

Hy het toe ’n advertensie gesien van iemand wat hulp wou hê met die herstel en diens van naaimasjiene. Mettertyd het Flip die besigheid oorgeneem.

Diabetes het hom beetgekry. ’n Tyd gelede het ’n houtstomp op sy linker groottoon geval, en dit is binne drie maande afgesit. Maar dit het hom nie gestuit nie. Hy het bly dans en ongestoord voortgegaan met sy herstelwerkbesigheidjie, klein toestelle regmaak, messe en skêre skerpmaak en was ook as knaphand bedrywig.

Verlede jaar het hy sy regtervoet teen ’n klip beseer. Na elf maande se gesukkel met die wond, is sy been onder die knie geamputeer.

“Ek het nie myself jammer gekry nie. Daar is niks waarvoor ek bang is nie, en beslis nie vir werk nie. As staatspasiënt sal ek twee tot drie jaar moet wag vir ’n prostese – en daarvoor is ek te haastig. Ek het net geweet ek moet planne maak. Ek wou weer bestuur en by my kliënte uitkom om masjiene op en af te laai.”

Alles is nou moeilik. Weens ’n ou skouerbesering kan hy nie met krukke oor die weg kom nie. Hy het ’n ou loopkarretjie in die hande gekry en dit maak werk. Maar hy wil met sy voertuig ry!

Nou die dag kry ek ’n oproep. “Veronica, sit aan die ketel, ek is om die draai!” Groot was my verbasing toe hy hier stilhou. Hier sit planmaker-Flip agter die stuur! Ek kon my oë nie glo nie. Hy het sowaar vir hom ’n ‘been’ gemaak!

Hy het aan weerskante van ’n stuk besemstok twee plankies met skroewe vasgesit. Aan die een kant het hy op die plankie ’n groot margarine plastiekbakkie met spons in, geprakseer. Daarin druk hy sy stompie.

Dan trek hy ’n afgesnyde rugbykous oor die ‘skarnier’, en dan ’n rekbare kniestut. Die gevoellose besemstokbeen kan nie die pedale voel nie, en daarvoor het hy ’n kopliggie aan die knie gesit om daar te kan sien. En daar gaan onverskrokke Flip!

“Ek is oor niks spyt nie, en aanvaar my toestand. Ek is net erg gefrustreerd en wil meer doen, meer werk kry dat ek maar privaat vir my ’n been kan laat maak. Dit is net vrek duur. En ja, ek wil ook weer dans!”

. Flip kan gekontak word op 082 771 3481.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article