’n Geskiedkundige geleentheid het by die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp plaasgevind toe twee vertoonkaste, wat erfstukke van die Williams-familie is, aan die skool geskenk is.
Dié vertoonkaste is deur oom Hoffie Williams aan die skoolhoof Frans Lotz oorhandig.
Volgens Williams het deesdae se huise nie plek vir sulke groot meubels nie, en die skool kan dit nuttig gebruik vir uitstalling van hulle trofeë.
Die familie is bly dat die twee items wat groot sentimentele waarde vir hulle inhou, nou in veilige bewaring en van nut is.
Oom Hoffie is ’n oud-leerling van Humansdorp en sy skooljare strek van 1939 toe hy by Laerskool Stulting met standerd 4 begin het, tot 1945 toe hy by Humansdorp Hoërskool gematrikuleer het.
Dit is ook die jare van die Tweede Wêreldoorlog en sy herinneringe is van die swaarkry met rantsoenering en tekorte, van koepons vir petrol koop tot ’n verbod op meel sif vir koek bak. Saans het die polisie aan jou deur kom klop as daar ’n skrefie lig sigbaar was deur die gordyne.
Williams onthou ook hoe ’n Ventura-bomwerper van die lugmag een nag rakelings oor die Lushof-koshuis se dak in ‘n noodlanding anderkant die huidige hospitaal in die vlei geval het.
Hy onthou ook hoe hy destyds na ’n uitnaweek die Appeltrein vanaf hul familie-plaas Bergrivier naby Thornhill moes neem na Humansdorp. Dan het hy vroeg-ligdag op ’n Maandag by die skool aangekom.
“Die stasie was ver van die kos-huis af. So, ek het my tas by Bos-kloof se draai, deur die venster binne-in ’n bos gegooi en dan van die stasie geloop om die tas te kry en dan by die koshuis iemand wakker geklop om in te kom,” sê oom Hoffie.
– BERIG VERSKAF





