Van links is Carey–Lee Krige, Melanie Prinsloo en Hesham Shaaban. Foto’s: Verskaf

Die COVID-19-pandemie en die daaropvolgende inperkings het baie mense gedwing om selfondersoek in te stel en na te dink oor dié dinge wat werklik belangrik is in die lewe.

Sommige mense het geliefdes verloor, ander se besighede moes noodgedwonge toemaak en ander het besef wat hulle passies werklik is.

Vir Melanie Prinsloo van Byooté by Melanie was dit ’n bietjie van al die bogenoemde, toe sy na die skielike verlies van haar man, moes besluit hoe sy die situasie as ’n ma van drie sou hanteer.

“Ek het twee keuses gehad: Ek kon op ’n hopie sit en vergaan of ek kon opstaan en die droom wat ek en my man gehad het – om vrouens op te tel uit ’n donker plek – begin bewaarheid.”

Diamante word onder baie groot druk gevorm, en in Melanie se geval was dit beslis so.

As ’n enkelma gaan dit nie elke dag maklik nie, maar deur haar seerkry het sy die moed gevind om ander vrouens te help wat dalk dieselfde seer as sy het.

Saam met haar werk as skoonheidsterapeut het sy ’n baie spesiale projek begin.

Self-worth Makeovers het eers in Johannesburg begin – waarheen Melanie vir ’n paar maande ná haar man se afsterwe moes trek.

Sy het haar eie seer verwerk deur ander vrouens laat beter voel oor hulself.

“Daar is baie vrouens wat hulself in moeilike omstandighede bevind en sukkel om tyd en geld aan hulself te bestee. Dit veroorsaak lae selfbeeld en kan tot ’n negatiewe invloed op ander areas van hul lewens – soos hul werk – hê.

“Dit is my hart om daardie vrouens te help om hulle te laat sien hoe Jesus hulle sien. Dat Hy hulle kosbaar en pragtig gemaak het en om hulle sodoende die moed te gee om vorentoe te kyk”.

‘n Voorbeeld van ‘n oormaaksessie deur Melanie Prinsloo.

Die oormaaksessies behels ’n nuwe haarstyl, grimering en soms klere, afhangende van die behoefte en hulpbronne tot hulle beskikking.

“Wanneer die transformasie voltooi is word daar ’n fotosessie gedoen en die dame ontvang dan die foto’s as herinnering dat sy ongelooflik spesiaal is en dat God haar elke dag só sien soos wat sy op daardie glansfoto’s lyk.”

Melanie het onlangs ’n paar plaaslike kontakte ingeroep en die eerste oormaaksessie in Jeffreysbaai beplan.

Die publiek was genooi om aan haar te skryf en te vertel waarom hul ma ’n oormaaksessie verdien.

Haarstilis Careye-Lee Krige, professionele fotograaf Hesham Shaaban van InFocus SA en Byooté by Melanie is die borge van hierdie sessie.

“Die wenner is reeds gekies. Almal wat hul tyd aan hierdie projek gee, het saam gesit en besluit wie die wenner is. Dit is ongelooflik om die vrouens se stories te hoor. Daar is werklik wonderlike mense in ons omgewing. Hou gerus Self-worth makeovers se Facebook-blad dop om die resultate van die transformasie te sien.”

Melanie nooi enige besighede of individue uit wat wil betrokke raak om haar te kontak.

Hoe meer hulpbronne hulle het, hoe meer mense kan gehelp word.

Haar doel is om ’n databasis van diensverskaffers op te bou sodat hulle as ’n groep mense met dieselfde hart vir vrouens, hierdie verskil kan bewerkstellig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article