Foto ter illustrasie.

Foto: Getty Images

Dit gebeur dikwels dat jy iemand sien met ’n letsel aan ’n been of arm en dan wonder jy ‘wat is die storie van dié letsel, wat het gebeur?’ Die storie is soms ’n hartseer een van trauma, en soms is dit ’n storie wat jou laat wonder of dit waar kan wees!

Jare gelede was ons by die KKNK op Oudtshoorn by ’n kunstenaar se uitstalling. Daar staan die mooie skepper van die besondere kunswerke – met een arm wat by die elmboog af is. Ek het lank gestaar en my eie storie opgemaak. Later kon ek dit nie hou nie en vra toe maar of sy sou omgee om te vertel wat gebeur het.

Dis toe dat sy die uitsonderlike storie vertel dat ’n beer haar arm afgebyt het. Ek het dadelik gedink sy maak seker ’n grap – hoe waarskynlik is dít nou? Maar dis toe waar! Sy en haar sussie het glo jare gelede ’n dieretuin saam met hulle ouers besoek. Hulle het van die pakkies kos gekoop waarmee jy diere kon voer. En dis tóé dat die groot beer haar arm beetkry en dit afbyt!

My liefste avontuurlustige buurvrou het ’n vinger of twee wat nogal kokaai is. My gedagte was eers dat dit dalk artritis is, totdat sy op ’n dag die misterie opgeklaar het. By ’n buitelug restaurant het ’n paar – op die oog af – mak sebras gewei. Sy was begeesterd deur die spoggerige diere en vra toe iemand om ’n foto van haar by ’n sebra te neem. Dit was net toe sy ingenome reg staan vir die foto, dat die parmantige pajamadonkie haar ’n skop gee op die vingers. Hoe vreemd is dit nie!

My broerskind hou daarvan om soms sy hare borselkop te dra. Dan vra vriende dikwels na die letsel op sy kop. Dis in ongeloof dat hulle dan die storie hoor hoe ’n bobbejaan hom gebyt het toe hy nog maar ’n klein seuntjie was. Ons was op besoek aan ’n wildpark toe ’n trop Kese in die pad speel. Van hulle het op die motor gespring en een het sy arm deur die skrefie van die venster gesteek, die seuntjie se kop aan die hare na hom toe getrek en hom gebyt.

My kleindogter, Yula, het ’n mak hoender op die plaaswerf gehad. Sy het gereeld die geveerde vriend opgetel en die sagte vere gevryf. Tot op ’n dag dat die outjie nie lus was vir die vashouery nie, en haar toe ’n allemintige skop op die wang gee! Die merk het gelukkig al vervaag, maar dit herinner ons steeds aan die gebeure en hoe groot sy geskrik het vir die skielike geskop van die hoender.

’n Oud-kollega het op ’n keer bloedvergiftiging opgedoen nadat ’n geroeste draad hom aan die been gekrap het. Dit het regtig erg gelyk en natuurlik het almal gevra wat gebeur het. Hy het later besluit om die waarheid te sê, is te gewoon. Toe begin hy maar sommer sê ’n slang het hom gepik.

Eintlik het ons almal maar ’n paar letsels – dis net nie altyd sigbaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article