Charlotte Kritzinger by ’n gedeelte van haar skulpversameling.

Foto: Verskaf

Die geskiedenis van Jeffreysbaai se Skulpmuseum is die storie van ’n doodgewone vrou wat deur liefde en passie vir haar omgewing ’n nalatenskap gelaat het wat vandag, meer as 50 jaar na haar dood, steeds waardeer kan word.

Charlotte Isabella Kritzinger is in 1905 gebore in Misgund-Oos in die Uniondale distrik. Hierdie oujongnooi en haar bejaarde ouers het in die vroeë 1940’s na Jeffreysbaai verhuis.

Versamel skulpe

Charlotte het soggens langs die strand gaan stap en begin om skulpe, seewier, seesponse en besondere klippe op te tel. Met verloop van tyd het sy ’n besondere versameling opgebou en mense het daarvan begin kennis neem. Sy was effe eksentriek en het graag haar “kinders”, soos sy na die skulpe verwys het, vir besoekers gewys en was altyd gewillig om kennis te deel. Sy het slegs die alledaagse kleurvolle noemname van veral die bruin gemeenskap gebruik, en nie wetenskaplike name nie.

Buitelandse belangstelling

Algaande het selfs oorsese besoekers van die uitsonderlike versameling te hore gekom en het sy met ander skulpversamelaars kennis gemaak. Hierdeur is haar versameling uitgebrei deur ander SA skulpe en oorsese skulpe te ruil of te koop en verkoop.

Skulpversameling leef voort

Charlotte het in 1971 gesterf na komplikasies toe haar regtervoet deur ’n skulp oopgekloof is – ironies.

Sy is begrawe in die Wavecrest begraafplaas en op haar grafsteen is die afbeelding van ses waaierskulpe.

Haar testament het bepaal dat die versameling as ’n geheel ver-koop moet word, en dit moes ook oorsee en plaaslik geadverteer word.

Intussen het Dr Courtenay-Latimer, direkteur van die Oos-Londen museum ’n brief aan die Jeffreysbaai munisipaliteit ge-skryf dat die versameling van 454 houers in Jeffreysbaai moet bly. Sy noem dat die waarde van Charlotte se versameling veral daarin lê dat dit opgebou is oor 30 jaar op net een plek. Die versameling het die lewensiklus van sekere spe-sies skulpe ingesluit.

Die munisipaliteit het die versameling gekoop vir R2 500, waarvan 10% aan die NG Kerk, Jeffreysbaai geskenk is vir Bybelverspreiding, soos versoek deur Charlotte.

Die versameling is jare later uitgestal in die eerste biblioteekgebou wat ook na haar vernoem is, en is mettertyd verskuif na die huidige gebou.

Ontsteltenis oor die prima eiendom

Die ligging van die voorgestelde museum het ’n storm ontketen onder inwoners en daar is selfs ’n Jeffreys Bay Beachfront Committee gevorm en ‘n petisie opgestel om die ontwikkeling te keer. Die koerante het weekliks briewe van beswaardes geplaas. Burgermeester Becke is omtrent oorval met kritiek.

Meermin skuil in die stoor

Een beswaarde het selfs ge- noem “dat dit nie nodig was vir ’n Sun City om in Johannesburg te wees om ’n sukses te wees nie” . . . nie ’n heeltemal regverdige vergelyking nie, want dobbel en bostuklose dansers was dáár die trekpleister! Die naaste wat die museum daaraan kom is ’n skulpkunswerk van ’n meermin wat bietjie te realisties is vir ’n kindervriendelike museum en daarom in die stoor opgehang is.

Entoesiaste bestuur die museum

Die Jeffreysbaai Skulpmuseum is op 15 September 1998 geopen met Thea Marsh as kurator. Na haar dood het die museum vreeslik verwaarloos, en skulpe het verdwyn.

In April 2016 het Carina Strydom van die munisipaliteit, die Humansdorp Museumvereniging gevra dat die komitee die bestuur van die Skulpmuseum oorneem vir ’n proefperiode van drie maande. Dié vrywilligers doen steeds uitmuntende werk.

Daar was toe ongeveer 600 skulpe in die museum, en vandag is daar meer as 3 000 verskillende spesies, en omtrent 10 000 skulpe wat uitgestal word.

’n Juweel in die dorp

Die museum ontvang gereeld skenkings van regoor die land. ’n Bekende inwoner van die dorp, Mercia Ungerer, het ook ’n besondere uitstalling aan die museum geskenk.

“Die komitee van die Humansdorp Museumvereniging bestaan uit ’n span vrywilligers wat passievol is oor bewaring. Sedert 2018 het die museum uitgebrei met ander temas soos skepe wat langs die kus gesink het, haaie, walvisse, skilpaaie, Khoisan- en Xhosa kultuur, en die chokka bedryf, verduidelik Petro Meyer van die vereniging.

“Tans is daar ’n paar projekte in die pyplyn om die museum te vernuwe en veral vir jongmense meer interessant te maak deur die gebruik van tegnologie,” sê Meyer. “Ons lede is nie een mu- seumkundiges nie maar probeer hard om Charlotte Isabella Kritzinger se nalatenskap te bewaar vir die toekoms.”

  • Die museum oorkant die hoofstrand, kan weeksdae van 10:00 tot 15:00 besoek word, en Saterdae van 09:00 tot 11:00.
Haar grafsteen in die Wavecrest begraafplaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article