Een persoon is dood in ’n huisbrand in Wavecrest, Jeffreysbaai. Foto: Verskaf

’n Man (62) is dood nadat daar ’n brand in ’n huis in Wonderboomsingel, Wavecrest in Jeffreysbaai laat Maandagaand, 24 Mei uitgebreek het.

’n Vrou en drie kinders is gered nadat hulle by ’n badkamervenster kon ontsnap.

Teen druktyd kon bevestiging van die name nie by die SA Polisie verkry word nie.

Volgens Dönitz Heydenrych van Smhart Security, het beamptes van Smhart Security omstreeks 23:31 ’n noodoproep ontvang van een van hul kliënte.

“Met hul aankoms het hulle dadelik die kontrolekamer laat weet dat die huis aan die brand is en hulle het onmiddellik nooddienste ontbied,” het Heydenrych gesê.

“Een van die bure het vir ons ’n lang leer gegee en ons senior skofbeampte, James Moorcroft, het met die hulp van Corrie Grobler, ’n vrou en haar drie kinders by ’n badkamervenster uitgehelp en tot veiligheid gebring.

“Die vrou wou terug in die huis ingaan om haar man te gaan help, maar die vlamme was net eenvoudig te hoog en die rook te dik. Daar was ook ’n brandweerman wat in die straat woon wat probeer help het, maar ons kon nie weer die huis binnegaan nie.”

Volgens Heydenrych het die eerste gasbottel ontplof oomblikke nadat hulle weg beweeg het van die huis af.

Die vrou is op die toneel deur ambulansdienste vir haar beserings behandel en die kinders is grootliks ongedeerd.

Volgens bure het die brandweer omstreeks 23:50 by die toneel aangekom en hul bes gedoen om die brand onder beheer te kry, maar in daardie stadium het die vlamme reeds die hele boonste verdieping verswelg. Kort ná die brandweer se aankoms het gasbottels wat binne die huis was, ontplof en die brand verder vererger.

Dit was onmoontlik vir reddingswerkers om in daardie stadium toegang tot die woning te verkry as gevolg van die reeds onstabiele toestand van die struktuur, geweldige dik rook en hoë vlamme, asook diefwering wat voor al die deure en vensters was.

Toe hulle uiteindelik die woning kon binnegaan was groot dele van die huis reeds vernietig en die 62-jarige eienaar van die huis is op die toneel oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article