Ds. Jasper en sy vrou Adré Louw. Foto:VERSKAF


DIE gemeente van NG Kerk Loerie sal op Sondag, 27 Maart, van Ds. Jasper en sy vrou Adré Louw afskeid neem, nadat hy 12 jaar in die Loerie gemeenskap werksaam was.

Hy sal tydens hierdie geleentheid sy demis-sie van die NG Kerk ontvang.Die egpaar het hulle reeds in St Francisbaai gevestig.

’n Bietjie agtergrond

Ná voltooiing van sy studies by die Universiteit van Pretoria in 1979 het hy sy bediening as kapelaan by die SAW by NG Voortrekkerhoogte-Wes begin.

Hierna was hy ook kapelaan by die SAW NG Messina waarna hy ’n beroep na NG Unitaspark Vereeniging aanvaar het.

Ná 24 jaar by NG Suikerbos, ook in Vereenig-ing, het hy en Adré besluit om die besige lewe van Gauteng met die rustige lewe in die platteland te verruil en het hulle na Loerie verhuis.

Hy was sedert 2015 ook in ’n deeltydse pos by NG Kerk Jeffreysbaai betrokke.

Ds. Jasper het op sinodale gebied ’n groot en onmisbare bydrae gelewer. Hy was aktuaris van NGK Wes-Transvaal en moderator van NG Kerk Wes-Transvaal. Ook in die Oos-Kaap het hy ’n groot rol gespeel en was sedert 2010 tot 2015 assessor van die NG Kerk in Oos-Kaapland, waarna hy in 2016 tot moderator van NG Kerk Oos-Kaapland verkies is – ’n pos wat hy vyf jaar lank beklee het.

  • Hy het op die volgende kommissies gedien:

Voorsitter van die Sinodale Jeugkommissie Wes-Transvaal, Kuratorium Universiteit van Pretoria, Skriba en Voorsitter van die Sinodale Regskommissie Wes-Transvaal, Sinodale Taakspan Regte Ook-Kaap, Gesamentlike Sinodale Kommissie 4 Transvaalse Sinodes, Interkerklike Kommissie (NGK, NHK, Geref Kerk), Godsdiens-Adviesraad van die Nasionale Weermag, Algemene Jeugkommissie, Algemene Taakspan Regte en Algemene Sinodale Kommissie/Moderamen (2006–2021).Gemeente gaan hom mis

Ds. Jasper sal veral onthou word vir sy boodskappe vanaf die preekstoel, en sy betrokkenheid en belangstelling by Loerie-gemeente se aktiwiteite en gemeentelede. Sy fyn sin vir humor is en was aansteeklik. Sedert die begin van die inperking in Maart 2020, ontvang gemeentelede steeds elke oggend ’n teksboodskap met geestelike inhoud van hom.

Ds. Jasper sal beslis gemis word, maar die gemeente gun hom en Adré die rustiger lewe.

Hy sal nog vir aflospreke vir die gemeente beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article