DIE gemeenskappe van Hankey en Patensie sal vanaf 16 Junie tot 1 Julie nóg spaarsamig-er met water moet werk.

Die jaarlikse “droë periode” is vir hierdie dae geskeduleer en die munisipaliteit waarsku dat tye sal wees wanneer daar geen water in die krane is nie.

“Hankey en Patensie se water kom uit die Kouga-dam se kanaalstelsel,” verduidelik Freddy Campher, Kouga se portefeulje raads-lid vir Infrastruktuur en Ingenieurswese.

“Die stelsel word deur die Gamtoos Besproeiingsraad bestuur en elke jaar in Junie word die kanale toegemaak vir instandhoudingswerk. Dit staan bekend as die ‘droë periode’.”

Volgens Campher, maak die munisipaliteit gewoonlik gebruik van die Kleinrivier om water aan Hankey te voorsien tydens die droë periode. Water word ook ingery.

“Die vlak van die Kleinrivier is ongelukkig te laag vanjaar as gevolg van die voortslepende droogte.

“Die munisipaliteit sal dus water aanry. Reënwatertenke is ook opgesit by munisipale geboue, klinieke en skole.”

Hy sê water van die Gamtoos Besproeiings-raad se balanseerdam sal gebruik word om water aan Patensie te verskaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article