Hanneke, Karla en Chrisna tydens die viering van hul dertigste verjaarsdag.

Foto: Verskaf

Die Stander-gesin van Jeffreysbaai het onlangs drie van hulle dogters, wat as ’n vierling gebore is, se dertigste verjaarsdag met groot vreugde gevier.

Ma Christa Stander het op 1 Februarie 1994 in die St George’s Hospitaal in Gqeberha geboorte gegee aan ’n vierling dogtertjies.

Die vier dogtertjies was piepklein

Hulle was piepklein toe hulle prematuur op 31 weke gebore is. Hulle is deur middel van ’n keisersnee die wêreld ingehelp, met geboortemassas wat gewissel het van 1.46kg tot 1.68kg. Klein Hanneke, Chrisna en Karla het mooi gevorder, maar hulle sussie Anina is na ’n week aan ’n harttoestand oorlede.

Eiesoortige swangerskap

“Die vierling is uniek, deurdat hulle een van bitter min gevalle is waar ’n identiese vierling gebore word na normale bevrugting. Daar was geen vrugbaarheidsbehandeling of ander metodes om swanger te word, gebruik nie,” vertel Christa. “So ver weet ons net van die Lombard vierling (hulle is in 1951 op Calvinia gebore) wat op soortgelyke manier gebore is.”

Die baba-dogtertjies was vir ses weke lank in die neo-natale hoësorgeenheid. Dit was eers toe hulle 2kg geweeg het dat hulle kon huistoe gaan. “Ons het maar gewonder hoe ons hulle gaan grootkry,” vertel Christa, ’n fisioterapeut en neuro-afrigter, en haar man Andries, ’n boer.

Tweelinge aan albei kante van die familie

Die paartjie sê daar is altesaam sowat 18 pare tweelinge aan weerskante van die familie. Christa is juis een van ’n tweeling. Hulle was beslis ’n tweeling te wagte, maar toe is dit sommer vier! “Jitte, dit was ’n groot verrassing toe die sonar wys daar is meer as twee lyfies! Die swangerskap was gelukkig ongekompliseerd. Dit was my tweede swangerskap. Ons het reeds ’n driejarige seuntjie, Adriaan, gehad.”

Die gesin het toe op ’n vrugteplaas in die Langkloof geboer, en het ten einde laaste sommer net om die draai van die hospitaal gewoon om naby te wees in geval die vierling of die ma hulp sou nodig hê.

Die sussies as baba-dogtertjies met hul ouboet Adriaan.

Hulle vier dertig jaar

Maar, die min slaap, tonne doeke en dosyne bottels is al vergete. Die hele gesin het opgeruk na die Tiger Canyon Lodge buite Philippolis in die Vrystaat waar ouboet Adriaan (33) as veldgids en spesialis voëlkyker werk. Hier is groot fees gevier om die drie dogters se dertigste verjaarsdag behoorlik te vier.

Hanneke Goodwin is getroud en woon in Potchefstroom waar sy verkope doen vir die radiostasie OFM, en is ook ’n binnenshuiseversierder. Sy is swanger met haar eerste baba, en hulle is glo doodseker daar is net één baba oppad.

Karla is nou Mev. De la Bat en is ’n stads- en streeksbeplanner in die Kaap.

Chrisna is nog Mej. Stander. Sy is ’n maatskaplike werker, maar hanteer tans onder meer sagteware-ontwikkeling en menslike verhoudinge by ’n maatskappy in Jeffreysbaai.

Hegte band tussen hulle

Ma Christa vertel trots dat die drie identiese meisiekinders baie geheg is aan mekaar, en elkeen het ’n besondere persoonlikheid. Hulle boeta Adriaan is baie beskermend teenoor sy sussies. Karla en Chrisna het al saam gaan skoolhou in Korea.

Nou wag almal nuuskierig op nog moontlike meerlinge!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article