Die mense wat deel is van die Dorp van Dromers op Jeffreysbaai, het opnuut woema gekry nadat die Kouga Munisipaliteit die derde plek verower het in die Departement Bosbou, Vissery en Omgewingsake se toekening vir hulle uitsonderlike bydrae om die omgewing groen te maak.
Die prysgeld van R150 000 sal aangewend word vir die verdure vergroening van die Kouga.
Veterane van die organisasie, en ’n klomp nuwe entoesiaste het bymekaargekom om die toekenning te vier. Die stigter, Deon Goosen, het die erkenning opgedra aan elkeen van toeka tot nou, wat hand uit die mou gesteek het en met graaf, hark en besem gewerk het.
Christa Venter, van die Kouga Munisipaliteit se omgewingsbestuur, het verduidelik dat die Dorp van Dromers ‘n reuse bydrae lewer om die dorp groen te maak. Hulle het reeds meer as 3 000 bome geplant sedert die stigting in 2012. “Sonder die Dorp van Dromers sou dit nie gebeur het nie,” sê sy
“Ons doen ’n beroep op inwoners om ook te help om die dorp mooi te maak, veral met die vakansie om die draai. Maak jou eie omgewing mooi en skoon,” pleit Goosen.
Hy sê, “Wavecrest het baie strate wat na bome vernoem is. Dit sal pragtig wees as almal in ’n straat saamwerk en die spesifieke boom in ’n ry aan dieselfde kant van die straat plant. Natuurlik moedig ons net die aanplant van inheemse bome aan.”





