Fatman sal op die Nartjiefeesverhoog te sien wees.

Foto: Verskaf

Soos baie ander plattelandse gemeentes het die getalle lidmate ook by NG Kerk Loerie minder geword.

Maar aan geesdrif en entoesiasme is daar glad nie ’n gebrek by hierdie lidmate nie! Gedurende Mei is heerlike Moedersdagete aangebied wat gevolg is deur ’n keurige “High Tea” in Augustus.

Goeie nuus is dat die Loerie Nartjiefees weer op 19 Oktober 2024 op die bekende Nartjiefeesterrein op Loerie gehou word.

Die eerste Nartjiefees is in 1994 aangebied – dieselfde jaar wat die KKNK sy ontstaan gehad het. Nartjiefees is beslis een van die oudste (indien nie oudste nie) gesinsfeeste in die Oos-Kaap.

Behalwe 2020 en 2021 tydens die COVID-19 typerk, het die fees nog elke jaar plaasgevind.

’n Fees wat gekenmerk word deur heerlike samesyn van vriende en familie, uitstekende kunstenaars, lekker feesatmosfeer, heerlike kos, ’n koffiewinkel, vars groente, nartjies, kindervermaak en goedgekeurde kunsmarkstalletjies. Dit alles in die pragtige Gamtoosvallei.

Kunstenaars wat op die Nartjiefeesverhoog gaan optree is Fatman, Chris en Elmari Brits, Dillon Lerm en Ruan van der Kuil.

’n Beperkte aantal kunsmarkstalletjies is vir die publiek beskikbaar.

Inskrywingsvorms vir die stalletjies is op Nartjiefees se webblad www.nartjiefees.co.za beskikbaar. Volg gerus ook Nartjiefees op Facebook.

Alle inligting omtrent die fees is by 083 383 4932 beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article