“Ons hou weer basaar!” Dit is die boodskap vanaf die NG Kerk op Loerie.
COVID-19 regulasies is verslap en die ergste somershitte verby – net die regte tyd om weer saam met vriende en familie in die pragtige Gamtoosvallei te kuier.
Die basaar word op Saterdag, 2 April op die bekende Nartjiefeesterrein gehou. Dit is ’n fondsinsamelingsprojek van die NG Kerk Loerie. Soos baie ander plattelandse gemeentes word die lidmate al minder en word hierdie inkomste gebruik vir die gemeente se uitgawes.
Ligte etes sal vanaf nege-uur die oggend bedien word. Dit sluit in ontbytrolle met spek en eiers, jaffles, basaarpoeding, pannekoek, worsrolle en slap tjips. Heerlike tuis-gebak (koeke, terte, kleinkoekies, be-skuit, tuisgebakte brood), Tannie Joan se konfyt, koeldrank, plante/saailinge vanaf Moorland en plaasvars groente en vrugte sal by die ander stalletjies beskikbaar wees.
Die koffiewinkel met keurige fyngebak bied ’n mooi uitsig oor die vallei.
Die Oos-Kaap Boerboel-vereniging kom vertoon hul pragtige boerboele tydens ’n skou wat gedurende die oggend op die terrein sal plaasvind.
- Die basaar begin om 9vm en toegang is gratis. Vir enige navrae skakel 079 063 4488 of 083 329 0911.





