Nico Mostert.

Foto: Willemien Green

Om wilde diere op reservate of wildplase op te pas kan traumaties en gevaarlik wees, sê Nico Mostert.

Mostert is ’n spesialis wat by die sekuriteit en beveiliging van verskeie plase en reservate in die Hankey- en Loerie-gebiede in die Oos-Kaap werksaam is.

“Almal weet van die stropery van renosters se horings, maar dis net die punt van die ysberg,” sê Mostert wat self vir ’n paar jaar in Limpopo renosterhoring-stropers aan die pen laat ry het.

“Hier in die Kouga-distrik is daar ook die gevaar van jagtery met honde.”

“Dis nou waar die diewe met enig-iets van vier tot sewe honde op ’n plaas inkom, gewoonlik word die grensdrade geknip of gate word onderdeur die draad gegrawe, en die honde word dan gebruik om die prooi te jag en te vang.

“Honde byt ’n swartwitpens-ram stukkend. ’n Kameelperd raak so verbouereerd deur die honde dat hy deur ’n heining hardloop. Kilometers vêr. Nou moet die eienaar ten duurste ’n helikopter huur om die kameelperd weer op te spoor, daar is geweldige onkoste en trauma vir die diere aan so iets verbonde.”

Smit sê die hondejagtery styg in die Oos-Kaap omdat daar vir die diewe ’n mark is.

Ná die diewe die verskeurde dier keelaf gesny en weggesleep het, verkoop hulle die vleis by sogenaamde “kleiner” winkels in armer woongebiede.

“Selfs beeste word op dié manier gejag, gesteel en verkoop,” sê Mostert.

Hy gebruik deesdae operateurs wat hy self opgelei het om teen die plase of reservate se heinings, gewoonlik te voet, te patrolleer.

“Hulle loop veral daar waar ons weet die diewe gereeld probeer inkom. So ’n operateur moet ook strikke verwyder as deel van sy werk, want jy kry ook die diewe wat net vir die pot jag,” vertel Mostert. “Die diewe wat die strikke gebruik, probeer kleiner wild, soos duikers, of hase of voëls soos tarentale en patryse vang.”

Volgens Mostert is dit belangrik om “sigbaar” te wees om die diewe af te skrik.

“Ons lê soms vir hulle hinderlae. Dis beslis nie kinderspeletjies nie,” vertel hy.

Daar is ook die meer gespesialiseerde wilddiewe. Dis daardie diewe wat ’n bok wat naby ’n pad loop met ’n geweer waarop ’n knaldemper is, sal skiet en onderdeur die draad na sy bakkie sleep.

“Dis gevaarlike werk hierdie en daarom werk ek baie nou saam met die polisie,” sê hy.

“Die skelms steel ook baie boere se groente of vrugte, dis veral maklik as die bome reg langs die pad staan. Dis vir my of daar veral in die laaste jaar of wat al meer en meer diefstal plaasvind.”

Volgens hom is werkloosheid en armoede een van die groot redes waarom mense wild probeer steel.

“Die boere in hierdie gebied is groot werkverskaffers, maar daar is nog steeds te min werk. Ek weet nie wat nie, maar hier sal beslis iets gedoen moet word om meer werk te skep,” waarsku hy.

Maar al gaan dit hoe swaar, skelmstreke sal gewis nie deur Mostert en sy gedugte span geduld word nie!

  • Bel Nico Mostert by 063 952 9623 vir meer inligting.
’n Strik vir rondloperhonde word deur ’n operateur gestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article