Foto ter illustrasie.

Foto: iStock/Getty Images/lechatnoir

Daar is iets magies aan ’n vlooimark.

Daar is so ’n groot verskeidenheid sulke markte, maar kleurvolle verskeidenheid is die gemene faktor.

Die naam “vlooimark” kom glo van die Franse woorde marche aux puces. Dit was die naam wat vir ’n mark in Parys gegee is.

Daar was gereken dat daar vlooie was in die goedere wat te koop aangebied is. Die term word sedert 1922 gebruik.

Ek kan my vergaap aan mense wat in gedagte deur die verskeidenheid stalletjies slenter.

Dikwels met ’n eetding in die hand.

Elkeen is in sy eie wêreld. Almal maak hier en daar ’n geselsie, vroetel aan die verkoopware, of dwaal net rustig verby.

Dis voorwaar bewonderenswaardig dat stalletjiehouers naweek na naweek hulle ware inpak, die stalletjie oprig, al die ware netjies uitstal, heeldag in die wind en weer sit en hoop vir ’n paar transaksies, en dan weer alles oppak.

Net om dit volgende naweek weer te doen. Dalk by ’n ander mark op ’n ander plek.

Dit kan sowaar nie altyd gemaklik wees nie. Dis in my boekie harde werk, en ek lig my hoed vir elke verkoper.

’n Mens raak meegevoer deur die gemaal van mense en val onnadenkend in die stroom van drentelaars. Die kosreuke lok jou en stimuleer jou smaakkliere.

Sal jy nou vandag melkkos, roosterkoek, vetkoek of pannekoek koop? Of sal jy jou oorgee aan die roerbraaigeregte, shwarmas of wildsvleissosaties?

Deesdae se kostrokke is ’n treffer en sekerlik makliker om te bedryf as ’n tentjie wat kan verwaai.

“Kyk hier! Kyk daar!” hoor jy hoe vestig een die ander se aandag op ’n winskopie wat hy nie nodig het nie. Dit lyk altyd of die klere by ’n vlooimark groot aftrek kry.

Ook die snuisterye vir kinders laat hulle ogies blink.

Met ’n smeltende roomys in een hand en ’n speelding in die ander, is die wêreld wonderlik!

Hier en daar loop ou vriende mekaar raak en maak ’n geselsie.

Ooo, en dan is dit ’n wonderlike geleentheid om die pelskinders op ’n uitstappie te neem aan die leiband. Talle stalletjiehouers het bakke water vir hulle, en daar is gewoonlik ’n vernuftige entrepreneur wat bederfies vir hulle verkoop.

Die mengelmoes mense is fassinerend. Dit wissel van reënboog paartjies, tradisionele gesinne met stootkarretjie en al, enkellopendes met groot sonbril op, bejaardes wat ingehaak slenter met sonhoede, of pelle wat die uitstappie geniet.

In die agtergrond is ’n sanger en musikant wat hulle bes doen om ’n aangename gees te skep.

Van waar ek en ’n vriendin sit onder die koeltebome, sien ons hoe vlooimarkgangers rustig met elmboë op die mankoliekerige tafels leun, die sous van ’n hamburger by die mondhoeke afvee, en ’n groot sluk koeldrank neem.

Jy gee vir ’n rukkie nie om dat daar stof op jou voete of skoene gaan lê nie.

Dit maak ook nie saak dat die wind jou hare ’n bietjie verwaai nie. Taai hande en vingers maak nie nou saak nie.

Die samesyn, vlooi-goedere en vars lug is wat mens telkens lok.

Vir perfeksioniste wat taaiheid, wind en slenter verpes, is dit ’n nagmerrie. Elke vlooi het sy geite.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article