“Ma moet nou nie Woensdag rooi aantrek nie,” kom my kerriekopkind se woorde oor die foon op die dag wat ek moes besluit wat ek gaan inpak vir sy gradeplegtigheid in Bloemfontein.

Dis tog my gunsteling kleur, en vir wat sal die kind nou dít sê? Natuurlik! . . . tref dit my. Sy toga gaan rooi wees. Die rooi togas is die akademiese erkenning vir ’n doktorsgraad.

Na tien jaar se bankvas sit om te skryf, oor te skryf, deurdruk, aanhou, moedhou, uithou en seer oë, is die tesis afgehandel. Onder die bekwame leiding van dr. Lindie Koorts, het my seun sy PhD in geskiedenis behaal.

Geskiedenis was van vroeg af sy gunsteling vak, hoewel hy eers in matriek dit een van sy vakke gemaak het, en eindelik ’n onderskeiding daarvoor gekry het. Toe weet ek: dis sy passie. En as mens jou passie gevind het, is jy gelukkig. Sy prestasie, sy harde werk en sy toewyding word nou beloon.

Toe sy naam uitgelees word, en hy met sy vellies op die verhoog stap met daai helder rooi toga en die swart hoofbedekking, het trane oor my wange gerol. Terwyl Dr. Koorts ’n opsomming van sy tesis lees, hoor ek dit net vaagweg . . . my dankbaarheid en trots bars deur my oë. My dogter Erika en skoonseun Dawson neem foto’s. Die oomblik is so groot en dit gaan so gou verby. My poging vir foto’s neem is nutteloos. Hy kniel voor die vise-kansellier vir die tikkie op die kop, en die band word formeel om sy nek gehang.

Soveel dinge flits deur my gedagtes: Sy kleinseuntjie-dae as die parmantige wolf in die kleuterskoolkonsert, kordate voordragte by die kunswedstryde, en die redenaarstoesprake met selfvertroue. Maar dis sy mens-wees en skerp humorsin, speel met woorde, wat hom ’n lekker mens maak. As enkelouer dink ek aan opdraendes, opofferings, gebede en gesprekke van aanmoediging – en uittrap – wat dalk gehelp het. Daar sit die kerriekop nou tussen ’n handjievol ander rooi togas.

Terug by die huis vertel my broer Japie my van ’n ander enkelouer, wat nie haar dogter se rooi togaseremonie kon bywoon nie. Sarie Hamman werk al dertien jaar by ’n hardewarewinkel. Haar dogter Nicolene het haar doktorsgraad in ekonomie aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Sarie het haar siel gegee vir haar dogter se geleerdheid. Haar verlof verkoop om geld te hê, haar salaris weekliks laat uitbetaal, haar dogter ’n jaar lank versorg tydens ’n siekte, tot sy van haar tweede jaar af beurse gekry het.

“Sy wou nie die seremonies bywoon van haar meesters- of doktorsgrade nie, so het ek nou nie gesien hoe sy oor ’n verhoog stap nie. Maar my hart juig, soos net ’n ma s’n kan. My kind is skrander en ek is uit my hart trots op haar dat sy op 28 so ver gekom het. Sy het seker haar pa, ’n onderwyser, se verstand gekry. Ek het haar ondersteun met alles in my,” sê Sarie agter die kasregister. “En sy het ook ’n graad by die Bybelskool behaal so twee jaar gelede,” spog sy nederig verder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article