DIE komediant Alfred Julian Adriaan (38), ’n boorling van Hankey in die Oos–Kaap, is deesdae heerlik doenig op sosiale media wat net die regte medisyne is wanneer dit voel of die pandemie te veel vir die gemoed raak.
Alhoewel hy nou in Johannesburg woon, lê die platteland hom steeds baie na aan die hart en gaan kuier hy en sy gesin gereeld by sy ouers wat steeds in Hankey woon.
Hy is getroud met Natalie en hulle het ’n seuntjie, Ethan.
“Oorspronklik het ek agter werk aan Johannesburg toe getrek, maar die stad het darem ook lekker mense,” sê hy.
“Dis ’n regte mixpot van mense van regoor Suid-Afrika en die wêreld, ons woon eintlik almal in ’n vreemde stad so daarom is ons dalk meer vriendelik met mekaar.”
Adriaan sê voor die inperking het hy veral in die groter stede soos Johannesburg, Kaapstad en Durban opgetree, maar hy toer nogal redelik baie rond selfs in ander lande soos Namibië, Australië en ook in Amerika.
“Ek dink tog steeds dat die mense op die platteland die beste humorsin het. Daar gesels ons mos met mekaar en maak tyd om ’n lekker storie te vertel, geen gejaag nie,” sê Adriaan.
Hy sê alhoewel die pandemie ’n verskriklike terugslag vir die hele wêreld is, het sy ondersteuning op sosiale media weens die inperking baie gegroei.
Adriaan is al nege jaar in die vermaakbedryf betrokke.
“Dit is maar die laaste vyf jaar wat ek voltyds optree,” sê hy.
“Ek was van kindsbeen af lief daarvoor om mense te laat lag en my talent het maar so met die tyd ontwikkel.”
“Dit is deel van my. Ek kan amper nie in woorde beskryf hoe lief ek daarvoor is om voor ’n gehoor op te tree nie.”
Hy sê dis ’n euforiese gevoel om groot groepe mense in sy wêreld in te bring en saam met hulle te kan lag.
“Ek is ’n stand–up comedian en ek doen meestal observational comedy en praat oor snaakse alledaagse dinge wat in en om my lewe ge-beur,” sê hy.
Adriaan betrek dikwels sy familielede en steek dikwels ook graag die draak met sy vriende tydens sy optredes op sosiale media.
“Ek dink darem dat hulle dit ook geniet en maak altyd seker dat hulle nie ongemaklik is nie. My familie en vriende is nogal snaaks in eie reg hoor.”
Hy sê hoe ouer hy word, word hy meer nuuskierig, “so dis lekker om nuwe dinge te leer en sosiale platforms soos podcasts, YouTube en natuurlik ook tradisionele media maak dit baie maklik.”
Vroulief Natalie het hom as ’n komediant ontmoet en het van die begin af sy shows geniet en onder- steun.
Hy sê as sy hom nie ondersteun nie het sy darem ook haar eie aanlyn klerewinkel beskikbaar by www.natalies.store.
Adriaan sê gelukkig hanteer sy ook haar ‘new found fame’ saam met hom op sosiale media redelik goed.
“Ons het nou nie groupies wat heeltemal mal gaan as hulle ons sien nie. Ons supporters is gewoonlik ouer mense en is darem respekvol as hulle ons in die openbaar sien. Hulle vra net so nou en dan vir ’n selfie,” sê hy.
Adriaan sê hy is en sal altyd ’n kind van die Kouga–distrik bly en hy sê dit gereeld met trots vir sy gehore, van Johannesburg tot in Australië.
“Dit was ’n voorreg om in Hankey te kon groot word. Die mense het my groot gemaak en tot vandag as ek by my ouers daar gaan kuier voel ek steeds deel van die gemeenskap. Daar is ek steeds net Alfie,” sê hy.
Sy bewonderaars kan uitsien na nuwe materiaal, maar meer as dit wil hy nie verklap nie.
Adriaan is daagliks aktief op Facebook, Instagram, Youtube en TikTok as Alfred Adriaan.



