Volgens verhouding-kundiges is daar vyf tale van die liefde. Kortliks kom dit neer op woorde, dade, tyd, aanraking en geskenke. Maar lank gelede het ’n predikant vir my gesê hy wens alle mans wil besef dat die pad na ’n vrou se hart deur haar ore loop: as hy die regte dinge sê, sal alles verder reg wees!
Wys my ’n vrou wat nie daarvan hou om gevlei en gekomplimenteer te word nie! Ons wil almal hoor ons lyk mooi, ruik lekker, dat ons hare blink, dat ons reg is, ’n goeie ma is en ook die slimste is.
Nou is daar ongelukkig manne in ander lande wat dié truuk al te goed ken en weerlose vroue die kous oor die kop trek. Vroue kry gereeld die vreemdste vriendskapsversoeke op sosiale media van aantreklike mans.
Omdat baie vroue smag na aandag en altyd hoop op die romantiese ridder, val hulle dan halsoorkop vir die slenters en gladdebek skarminkels.
’n Vriendin vertel my van ’n bejaarde vrou wat so ’n vriendskapsversoek aanvaar het van ’n man baie jare haar junior. In ’n ommesientjie het die vreemdeling die vrou oorrompel met sy slimpraatjies. Hy nooi haar toe om by hom in Amerika te gaan kuier. Hy verneuk haar toe uit derduisende rande. Van die kuier het dadels gekom en hy het soos ’n groot speld verdwyn.
Ek besluit toe om self navorsing te doen, en aanvaar toe Michael Scott se versoek. Wat ’n aantreklike Pool! Sjoe! Ek het effens saamgespeel. Sommer op die tweede dag skrywe hy: “My dear Veronica, you are wonderful and I adore you for the queen you are. I love your smile.” Kort daarna was ek “amazing, gorgeous, beautiful, charming, honest, sincere, in good shape en understanding.”
Toe wil die ‘drilling engineer’ wat in die see naby Nederland werk, toe net hê ons moet ’n ‘relationship’ bou. Ek moes kwaai wal gooi toe hy sê hy kan nie wag dat die orige drie maande van sy kontrak moet verstryk nie “so that I can come to South Africa with my twelve-year-old daughter, and we will be a happy family. I have a pure heart of love and believe in true love.”
O nee! Wag ’n bietjie Mnr. Scott. Vir ’n uitlandse tiener en man sien ek nie kans nie. Ek vra toe vir ’n video-oproep want ek wil sien met wie ek te doen het. Hy is toe sowaar pragtig, met ’n ligte stem en swaar Poolse aksent. Hy vra my toe iets wat ek nie verstaan nie, en ek sê hy moet eerder skryf. En daar kom dit toe! Hy vra my om vir hom ’n dure foonkaart te koop sodat hy sy dogtertjie kan kontak. Behalwe dat dit nie vir my sin gemaak het nie, sou ek nie ’n sent op hom spandeer nie.
Was die ‘God fearing’ man nie vies toe ek nie val vir sy versoek nie? Dit was my plan om hóm te blok sodra geld ter sprake kom. Toe is hierdie “precious woman for whom I will climb a hundred mountains and swim thousand rivers,” skielik ná ’n week ’n teleurstelling.
“This is very disappointing, you should not treat a friend like this.”
Ek moet skaam bely – ek het sy leë vleitaal geniet en uitgesien na elke boodskap. Ook erg afgehaal dat hy mý geblok het nog voor ek dit kon doen.
Bevestiging: die pad na ’n vrou se hart loop beslis deur haar ore! Loop lig, Eva’s!
Ek sal maar liefs die versoeke van George Harris, Desmond Nelson, Jannik David en dies meer ignoreer.




