Die kersseisoen het met mening aangebreek. Die tinsel skitter in die winkels, liggies vonkel aan huisvensters. Geskenkpapierrolle staan gereed in bokse. Kersbome skep ’n feestelike atmosfeer in huise. Aanlynverkope en winkels het spesiale aanbiedings. Elke kerk en organisasie hou ’n kerskonsert of –diens.
Die afgelope naweek het ek saam met my dogter Erika en haar gesin die verruklike Kerskonsert onder leiding van die befaamde dirigent Richard Cock in die Veremarksentrum bygewoon. Die musiek was meesleurend. Cock is ’n meester as dit kom by gehoor-betrokkenheid. Ons het met sleutels die orkes gehelp om die sneeuklokkies na te boots. Die vol saal het op sy aanwysing soos een man ’n harde handeklap gegee om die sweepslag duidelik te laat hoor.
Daar was skaars ’n droë oog toe ’n jong skoolseun met sy goue koorjurkie dapper ’n solo gesing het saam met die Jeugkoor. Die koor van die Nuwe Apostoliese Kerk en die Cantando@Algoa groep se stemme het die kersliedere nuwe betekenis gegee met hulle suiwer stemme.
Die lede van die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes was op hulle pos en, het soos altyd, ’n manjifieke uitvoering gegee. Hulle het selfs elkeen ’n kersversiering aan die instrumente vasgemaak.
Intussen……Ons het op die boonste vlak gesit en kon afkyk op die kunstenaars en gehoor. Ons kon ook die mense aan die oorkant op die boonste vlak goed sien. Opeens is daar ’n beroering aan die oorkant! ’n Bejaarde vrou, wat heeltyd op haar arms gerus het op die houtreëling, het skielik halflyf oorgehang en na benede gekyk. Sy het arms geswaai en dan weer haar hand oor haar mond gesit.
Met dié dat sy met haar voete saam tydgehou het, het haar hout kierie tussen die gate van die hout reëling deur gewikkel, en kaplaks! meters ver op ’n bles man se kop daaronder geval.
Hy het vervaard en geskok opgespring en sy kop vasgegryp en woes rondgekyk om vas te stel wat hom getref het. Hy was ooglopend verbaas dat daar nie bloed was nie!
’n Plekaanwyser wat die petalje aanskou het, het tot sy verligting gekom met ’n pak ys. ’n Mede-konsertganger het dit vir hom in haar swart serp toegewikkel en dis weer op sy kop gesit. Só het hy die res van die wonderskone konsert gesit en die yspak net nou en dan verskuif.
Na afloop van die konsert het ek die kierie-vrou uitgevra. Sy was nog steeds verleë, en was net baie bly dat die man nie ernstig beseer is nie. Sy het bevestig dat daar ’n kwaai knop op die bleskop ontstaan het, maar geen druppel bloed was te sien nie.
Die bles knopkopman het my ontglip. Ek is seker hy het hom boeglam geskrik en dalk gedink dis ’n sneeuslee wat hom getref het – maar toe is dit al die tyd ’n ‘skaapwagter’ se kierie. Dié kerskonsert sal hy nooit vergeet nie.
Nou kan ek my net indink: as daar nou ’n merk agterbly op sy kop, en iemand vra hom eendag wat daar gebeur het…verbeel jou wat hy moontlik sou sê. “’n Staf het my getref tydens ’n Stille Nag net buite Bethlehem toe ek sterre gekyk het.”





