Die Joshua-projek in Jeffreysbaai het deur die jare sinoniem geword met welwillendheid en goedheid teenoor die minderbevoorregte kinders in Jeffreysbaai en Humansdorp. JOANé AZENHA het gaan inloer.

Die groentetuin by die projek waaruit hulle groente aan restaurante in die dorp verkoop.

Die Joshua-projek sorg sedert 1998 dat daar altyd ’n veilige hawe en ’n warm ete vir straatkinders in Jeffreysbaai beskikbaar is.

Die weldoeners by die projek het ’n sterk fokus daarop geplaas om verhoudings te bou met die kinders om sodoende meer oor hul omstandighede uit te vind en die nodige hulp te verleen om die kinders se omstandighede te verbeter.

Die projekbestuurder, Lunga Mlangeni, maatskaplike werkster, Nazleu Botha en koördineerder Karen Copaan-du Toit gesels al drie geesdriftig oor die projek.

Hulle is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat hulself as ’n “drop-in-centre” bemark, dus ’n inloerplek vir kinders. Die doel is om kinders in skole te kry en so ver moontlik met hul families te herenig, daarom is dit nie ’n voltydse pleeg-huis waar kinders kan slaap nie.

Deesdae volg die projek die “MEND” sisteem. Die akroniem staan vir Mentoring, Education, Nurturing en Discipleship. Deur hierdie vier areas te beinvloed poog die Joshua-projek om ’n verskil te maak in elke kind wat oor hul drumpel trap.

Die mentorskapprogram word grotendeels deur maatskaplike werkers behartig, waar hulle weekliks persoonlike gesprekke met die kinders voer om uit te vind wat hulle agtergrond is, of hulle skool gaan en wat die situasie tuis is, indien hulle huise het. Die projek werk dan ook nou saam met die department van sosiale ontwikkeling en die trauma-sentrum op Jeffreysbaai om vir kinders wat deur traumatiese ervarings is, die nodige berading en hulp te bied.

Botha vertel, “Dit is belangrik om te onthou dat kinders om verskeie redes op straat beland. Sommige van die kinders het huise waarheen hulle snags kan gaan, maar die omstandighede is van so ’n aard dat die kinders nie deur die dag daar wil of kan wees nie.”

“Hierdie kinders moet ook dikwels vir hulself van kos voorsien. Dan is daar kinders wat lanklaas kontak met hul families gehad het en ons probeer gewoonlik hul mense opspoor om die kinders terug in die skool te probeer kry. Ons doen ook huisbesoeke om die ouers of voogde te ondersteun.”

In hierdie klaskamer word kinders soggens onderrig en smiddae word huiswerk hier gedoen.

Opvoedingsprogram

Die tweede deel van hul program is opvoeding en hierdie program is weer in twee dele verdeel. Die eerste groep kinders wat hulle help is die groep kinders wat nie tans by skole ingeskryf is nie. Dit is gewoonlik kinders van 13 jaar en ouer wat lanklaas skoolgegaan het en nie die basis het wat nodig is om by hul ouderdomsgroep in skole aan te sluit nie.

Hulle word daagliks van voedsame ontbyt voorsien voor die akademiese program vir die oggend begin.

Vir hierdie groep word ’n basiese volwasse opvoedingsprogram aangebied wat vaardighede soos lees en skryf insluit asook praktiese vakskappe soos tuinmaak, houtwerk en naaldwerk. Dit stel die kinders in staat om later as volwassenes ’n ambag of beroep na te streef indien hulle dit wou doen.

Smiddae na skool is dit die tweede groep se beurt. Dit bestaan uit skoolgaande kinders en bied kos en huiswerkhulp aan. Vrywilligers help die leerders met hul huiswerk en gee vir hulle ’n veilige plek om te studeer.

Die projek is geseën met rekenaars wat die ouer kinders kan gebruik om navorsing te doen vir take, tikwerk en drukwerk te doen om hulle te help om goeie kwaliteit werk te lewer by die skool. ’n Basiese rekenaarkursus is ook onlangs vir van die kinders aangebied.

Basiese benodighede word verskaf

Die derde been van die program is waar aan die basiese behoeftes van die kinders voldoen word wat kinders gewoonlik by hul huise kry.

Van links, Nazleu Botha, Lunga Mlangeni en Karen Compaan-du Toit.

Daar is ’n groep moederharte wat sorg dat kinders kan stort en wasgoed was, geklee word en kos kry. Basiese benodigdhede soos toiletware en klere word aan die kinders verskaf indien hulle dit benodig.

Laastens word die kinders geestelik versorg deur soggens saam met hulle bybelstudie te hou en werklik ’n pad saam met hulle te stap in hul verhouding met God.

Die Joshua-projek moedig mense aan om nie vir straatkinders geld te gee nie, maar hulle eerder na die projek te verwys omdat hulle daar aan al die kinders se behoeftes kan voldoen.

“Omdat die kinders soms uit haglike omstandighede kom, wend hulle hulself soms na gom of ander dwelms om uit hulle omstandighede te ontvlug. Ons wil hulle help deur nie vir hulle die geld beskikbaar te stel om dwelms te koop nie,” verduidelik Copaan-du Toit.

“Indien jy wel wil help is daar baie projekte soos ons wat altyd fondse benodig om hierdie kinders te help op ’n gesonde manier. Wanneer hulle geld kry is hulle meer geneig om weg te bly by die projek en leeg te lê op straat.”

Die projek het onlangs aansoek gedoen om borde by die ingange van Jeffreysbaai op te sit wat besoekers inlig oor die situasie waarin ons straatkinders hulself bevind. Die slagspreuk van die inisiatief lui as volg: “Moenie van ons kinders bedelaars maak nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article