Gordyne wat lig.
Foto vir illustrasiedoeleindes. Credit: Pixabay

Ballet, opera, musiekvertonings, kunsuitstallings, skrywers en boeke, komedie, ‘n fluitkwartet, klassieke musiek en kunswerkswinkels is op die spyskaart van die eerste kunstefees van sy soort op Jeffreysbaai van 1-3 Mei.

Kunstenaars soos Amanda Strydom, Elsabé Zietsman en Nataniël maak deel uit van die skitter program.

“Teatergangers gaan bederf word met hoogstaande produksies. Die rooi tapyt sal behoorlik uitgerol word! Almal sal spesiaal voel en verwelkom word.

“Mens sou kon dink jy woon Broadway produksies by! Ons pak dié fees aan vir die dorp en sy mense en ondernemings,” sê feesdirekteur Soria Swart.

Teatergangers kan ‘n ‘paspoort’ bekom by die deelnemende restaurante Walskipper, Infood: Unwind, Suikerbossie, BruCo en De Viswijf.

Hulle bied ‘n spesiale Kunskoors ete aan, waarvoor daar dan ‘n stempel op die paspoort gemaak word. So ook by elke produksie.

Diegene wat dan agt of meer stempel op die paspoort het, kan gratis ‘n musiekproduksie bywoon die aand van 3 Mei by Bru Co.

Boekefees

Hannes van Wyk, bekende akteur en televisie aanbieder, sal vier boekbesprekingsessies lei met skrywers oor hulle jongste boeke.

Op 1 Mei praat hy tydens die oggendsessie met Karen Horn en Nicole Engelbrecht, en die middag met Louise Viljoene en Anchien Troskie.

Die volgende oggend is Dietloff van der Berg en Carina Stander aan die beurt, en die middag is dit Sidney Gilroy en Ryan Blumenthal.

Daar is nog enkele kaartjies beskikbaar vir van die produksies by die feesdirekteur Soria Swart by 082 684 4350.

Meer inligting oor die skrywers en boeke, en die res van die feesprogram is te kry by www.kunskoors.co.za , en die Kunskoors Facebook blad.

• Daar is nou ‘n spesiale aanbod vir die boekbesprekings by die NG Kerksaal in Da Gamaweg, van R100 vir ‘n oggend- of middagsessie, met ‘n glasie wyn.

Kuier met Hannes en die skrywers, en daar is geleentheid om boeke te koop en te laat teken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article