Anton Goosensluit sy Kaapse toer af met ’n eenmalige optrede in Jeffreysbaai. Foto: Jako Loots


Anton Goosen of soos in hy die volksmond bekend staan, die ‘Goose’, sluit sy Kaapse toer met ’n eenmalige optrede in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap af.

Of jy nou ’n fan is of nie, die meeste mense het al minstens een of meer van sy treffers soos Silver de Lange, Boy van die Suburbs, Byeboerwa en ’n Brief vir Simone gehoor.

“Dié show is verteenwoordigend van my werk sedert 1979. So ’n paar ou songs, hier en daar minder be-kendes en ’n paar nuwes en dan sal ek ook die stories agter elke liedjie vertel,” verduidelik Anton.

Illinar Neitz, ’n bekende kitaarspeler wat ook sy eie musiekskool in Pretoria bestuur, tree tydens die toer saam met Anton op.

“Ons tree al ongeveer vier jaar saam op, hy is nie net ’n briljante ki-taarspeler nie maar ook ’n steunpilaar op toer,” sê Anton.

Soos die meeste van Anton se aanhangers reeds weet speel hy self ook uitstekend kitaar – hy is immers nie verniet ’n Suid-Afrikaanse Rock–-legende nie!

“Ek speel sedert 2000 net op Taylor–kitare,” sê hy.

“Dié vertonings is live met geen backtracks of voorafopgeneemde toertjies nie.”

Die COVID–pandemie het ook sý optredes gekniehalter.

“Gewoonlik het ons een keer per jaar die Tuinroete en Oos–Kaap besoek, maar COVID het dinge erg omgekrap.”

“Ons het ’n hele paar aanlynkonserte gedoen en in 2020 ’n reeks aanlyngesels– en musiekprogramme (omtrent 22 daarvan) op Sondagmiddae aangebied.”

“Dit was genoem ‘Kaggelkuiers’ en ons het met ander kunstenaars en skrywers soos Valiant Swart, Gian Groen, Dozi, Deon Meyer en Jack Parow om maar ’n paar op te noem, aanlyn gesels.”

Goosen se biografie, Anton Goosen, Liedjieboer is ook gedurende die pandemie in 2020 gepubliseer.

Die biografie bevat 40 jaar se rock–’n–roll–gebeure soos vertel deur die ‘Goose’ en geskryf deur Hanlie Retief, die welbekende joernalis.

Daarin vertel hy van sy kinderjare in die Vrystaat en die hoogte– en laagtepunte in sy indrukwekkende musiekloopbaan.

Min mense is ook daarvan bewus dat Anton ook ’n Diploma in Psigopatologie vir spesiale onderrig vir verstandelik gestremde kinders verwerf het en ’n onderwyser in die vroeë 1970’s was terwyl hy saans in kroeë opgetree het!

Hy was selfs op ’n stadium ’n krieketskeidsregter vir Suid-Transvaal, voorwaar ’n veelsydige mens.

Of die vraag of daar ’n nuwe CD moontlik binnekort te wagte kan wees antwoord Anton: “Ons sal moet sien, dinge het baie verander sedert CD’s nie meer gedruk word nie. Alles is tans op digitale platforms. Maar ja, dit is tyd vir ’n handvol nuwe songs. My vorige CD was 2019.”

“Ons sal wel ’n paar kopieë van my biografie en natuurlik ook CD’s saamneem na die vertonings toe.”

Anton Goosen en Illimar Neitz tree op 13 Desember om 19:30 by The Venue @ Potters in Oosterlandstraat 18, Jeffreysbaai op.

Die kaartjies hiervoor kos R150 per persoon.

Skakel 072 428 2611 of 063 491 6157 met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article